Solidariteit het vandag aangekondig sy regspan is dringend besig om verskeie regsroetes te ondersoek ten einde stygende brandstofpryse te bestry.
Volgens Solidariteit speel die regering, en veral die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, steeds ʼn beduidende rol in die onlangse rekord-toename in brandstofpryse.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), verduidelik: “Terwyl ons besef dat onstuimige wêreldmarkte en ander faktore soos die wisselkoers steeds die grootste impak op die prys van brandstof het, beteken dit nie dat ons die regering kan verskoon daarvoor dat hulle pryse selfs nog hoër dwing met ondoeltreffende regulasies nie. Dit is juis in sulke rampspoedige tye waarin aksie ten sterkste genoodsaak word.”
Solidariteit voer aan dat die tydelike verligting in die vorm van ʼn verlenging van die korting op die brandstofheffing wat onlangs deur die minister aangekondig is, onvoldoende, kortsigtig en oor die lang termyn selfs skadelik sal wees.
Die tydelike verligting wat die minister voorstel, is ʼn korttermynoplossing wat op die lang termyn uiters skadelike gevolge vir die fiskus inhou. Dit hanteer boonop nie die strukturele probleme in Suid-Afrika se brandstofmark nie. Volhoubare verligting lê daarin om die regering se wurggreep op die brandstofwaardeketting te verbreek sonder om nóg druk op ʼn reeds wankelrige staatskas te plaas,” sê Du Buisson.
Solidariteit voer aan dat die regering deur sy regulatoriese en administratiewe besluite ʼn buitensporige en onregmatige invloed op brandstofprysbepaling geniet en verder dat hy hierdie invloed uitoefen ten koste van gewone Suid-Afrikaners deur pryse kunsmatig hoër te dwing.
“Dat ons regering te midde van hemelhoë inflasie, stygende werkloosheid en bykans alomteenwoordige armoede steeds voortgaan met die vasstelling en ongeregverdigde verhoging van brandstofpryse is ondenkbaar, onbillik en irrasioneel. Dit kan nie daar gelaat word nie. Ons reik al geruime tyd uit na die regering met die oog op oplossings in hierdie verband, maar hy gaan ongestoord op sy weg voort.
Ten spyte van ondernemings wat in die parlement en in die media gegee is om te dereguleer, het die departement nie by sy woord gehou nie. Ons moet ons derhalwe nou na die howe wend vir oplossings om die regering te dwing om tot aksie oor te gaan,” sluit Du Buisson af.



