Lugredery kanselleer al sy vlugte weens geldtekort

Deel hierdie storie / Share this story

Kulula.com, British Airways SA het al sy vlugte gekanselleer weens geldtekort.

Luidens ‘n verklaring het Comair bevestig dat dié maatskappy al sy kulula.com- en British Airways-vlugte vrywillig vanaf 1 Junie 2022 opskort, hangende die suksesvolle verkryging van bykomende finansiering om sy bedrywighede te hervat.

“Comair is ongelukkig verplig om aan te kondig dat hy verplig is om alle British Airways-vlugte, wat deur Comair bedryf word, en kulula.com-vlugte vanaf Dinsdagaand 31 Mei 2022 op te skort hangende die suksesvolle verkryging van bykomende befondsing.

“Die maatskappy se sakereddingspraktisyns (BRP’s) het Comair in kennis gestel dat die proses om die nodige kapitaal in te samel aan die gang is en dat daar rede is om te glo dat sulke befondsing verseker kan word.

“Sodra dit ontvang is, sal die lugredery bedrywighede kan hervat, maar ongelukkig het die praktisyns onder hierdie omstandighede geen ander keuse as om vrywillig alle geskeduleerde vlugte op te skort, totdat die befondsing bevestig is nie.

“British Airways, wat deur Comair bedryf word en kulula.com-kaartjieverkope is ook met onmiddellike effek opgeskort.

“Ons betreur die ongerief wat hierdie skorsing van vlugte aan ons kliënte sal veroorsaak. Ons het alles gedoen wat ons kon om dit te vermy. Comair, die BRP’s en die leners werk alles uit om die nodige finansiering in plek te kry sodat ons ons normale vlugskedule so gou as moontlik kan hervat,” sê Comair se uitvoerende hoof, Glenn Orsmond.

“Comair is op koers om vanjaar meer as vier miljoen passasiers te vervoer en R5,3 miljard se inkomste te genereer. Ons het uitstekende personeel, ’n moderne vloot, goeie verkoops- en verspreidingskanale en lae bedryfskoste, en daarom glo ons die finansiering sal verseker word,” lui die verklaring.

Lees meer: https://www.comair.co.za/media-room/comair-suspends-flights-pending-receipt-of-funding