Name van US-studente mag nie bekend gemaak word nie

Deel hierdie storie / Share this story

Die Universiteit Stellenbosch sê in ‘n verklaring die name van die studente wat die afgelope week by “voorvalle” betrokke was, nie bekend gemaak mag word nie.

Volgens Martin Viljoen, US-woordvoerder volg die die Universiteit Stellenbosch (US) ‘n nul-verdraagsaamheidsbenadering tot rassisme, diskriminasie, vooroordeel en geweld op kampus.

“Met betrekking tot die twee voorvalle op kampus die vorige week, is interne ondersoeke en dissiplinêre verhore aan die gang, en dit bly topprioriteit. Hierdie prosesse word nagekom soos voorgeskryf sonder enige afwyking en ons kan nie verdere kommentaar lewer oor verwikkelinge voor die sluiting daarvan nie,” sê Viljoen.

Hy beklemtoon dat dit belangrik is om te onthou dat kriminele klagtes in beide gevalle aanhangig gemaak is en dat die behoorlike proses van die Suid-Afrikaanse wet nou gevolg moet word.

“Hierdie regsprosesse is nie binne ons beheer nie, maar ons werk ten volle saam in hierdie verband. Volgens die regsproses mag die universiteit nie die name van die betrokke studente verskaf nie, veral in gevalle van beweerde seksuele aanranding,” voeg Viljoen by.

Die universiteit sê dit bly daartoe verbind om die slagoffers van die voorvalle te ondersteun.

Die universiteit het verder kennis geneem van kommentaar op sosiale media wat onderrig in Afrikaans met die rassisme-voorval verbind.

“Enige poging om Afrikaans binne die bestek van die Huis Marais-aangeleentheid te bring, is onsensitief vir die regte en kultuur van baie van die gemeenskappe aan die universiteit oor rasgrense heen.

“Sulke verklarings word gemaak in die persoonlike hoedanighede van individue en kan nie aan die universiteit toegeskryf word nie.

“Die universiteit het ‘n goedgekeurde taalbeleid wat op veeltaligheid gebaseer is. Die beleid is in 2021 hersien, en dit is duidelik dat Afrikaans ‘n primêre onderrigtaal sal bly.

“Die Universiteit Stellenbosch is deel van ’n breër gemeenskap en die samelewing as geheel, en die realiteite in die land is ook die US se realiteite,” sê Viljoen.

Volgens die universiteit werk hul hard om hul waardes, naamlik deernis, billikheid, respek, aanspreeklikheid en uitnemendheid, te handhaaf.

Verdere inligting met betrekking tot die afsluiting van die ondersoeke en die uitkoms daarvan sal aangekondig word soos toepaslik en wanneer beskikbaar.