Zuma se korrupsiesaak weereens uitgestel

Deel hierdie storie / Share this story

Oud-president Jacob Zuma se korrupsieverhoor – wat uit die omstrede wapentransaksie voortspruit – is weereens in die Pietermaritzburgse hooggeregshof uitgestel.

Daar is besluit om die saak uit te stel, aangesien die president van die appèlhof, regter Mandisa Maya, nog nie uitspraak gelewer het in Zuma se aansoek dat dié hof sy besluit moet heroorweeg dat advokaat Billy Downer wél as staatsaanklaer mag optree nie.

Downer het regter Piet Koen vandag meegedeel dat dié aansoek nog nie eers onder Maya se aandag gekom het nie, ten spyte daarvan dat hy al twee keer by die hof daaroor navraag gedoen het.
Die saak is voorlopig tot 1 Augustus uitgestel wanneer die hof finaal sal besluit of dit moontlik sal wees dat die verhoor wel op 15 Augustus sal kan begin.

Koen het ook gesê hy vermoed Zuma sal die Grondwethof nader indien Maya sy aansoek van die hand wys.