Avrole Hewitt (52) het saam met sy gesin, sy vrou Estelle en hulle seun, Jean-Pierre, 800 km geloop om vir ‘n vrou wat kanker het, fondse in te samel.
Hy sê hy wou eers vir Guardian and Angels geloop het om fondse in te samel vir die organisasie. “Ek het gehoor dat Tikkelyn fondse nodig het en ek en my seun het besluit ons gaan vir haar loop. As dit een van my familie was sou ek dit ook gedoen het. My vrou het ons ook kom ondersteun en besluit sy gaan saam met ons die 800 km aandurf.”

Avrole was in 2014 in ‘n motorfiets ongeluk en het sy been verloor. Hy was vir twee maande in die hospitaal. Hy sê sy vrou en seun was sy grootste ondersteuning. Hester Bekker van Guardian and Angels en die Iron ladies het hulle ook ondersteun.

“Dit was vir ons ‘n belewenis, ons het geglo en die Here vertrou, ons het geweet in ons harte ons gaan dit maak. Toe ons die eindpunt behaal het, het ons drie gehuil van blydskap.” Avrole sê hy sal weer so ‘n staptog aanpak in die toekoms. “As ek ‘n verskil in iemand se lewe kan maak, dan sal ek.” Hy sê die hele ervaring was lekker en hulle het elke dag uitgesien na die volgende dorp. “Ek en my vrou en kind het baie gelag langs die pad en gespeel ook.”






