Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, se wedervaringe het op 11 April begin. Hulle het die middag om 15:00 ‘n vergadering gehad vir oudbestuurslede. Hulle het ook maande gelede reeds ‘n konferensie gereël vir 12 April.
Wilken vertel dit het begin reën, en die Wittespruit het begin afkom. “Ek was bewus van my vergadering wat ek moes nakom. Die Saterdag het ek reeds my voertuie deurgevat na my seun-hulle toe wat anderkant die spruit bly. Ek kon nie aan daardie kant van die spruit bly nie, want my ooie het begin lam.
“Sondagoggend kon ons nog deurgaan met ‘n trekker. Ek het my klere ook anderkant toe gevat. Rondom 12:00 Sondagmiddag kon ons nie meer met die trekker deurgaan nie, die water het te sterk geloop. Ek het maar gehoop die water sal afloop teen Maandagoggend.”
Maandagoggend, 11 April wou Francois deurgaan, maar hy kon nog nie met die trekker deurgaan nie. “Ons het toe begin planne maak om anderkant te kom. Ek het eers twee trekkers gebruik, ‘n kabel oor die water gespan en aan die kabel vasgehou, om te probeer deurstap maar die water was net te diep en te sterk.
Daar was ‘n plek hoër op in die spruit waar die water stadiger loop, ons het toe met ‘n visstok ‘n vislyn oor die water gegooi en ‘n tou deurgetrek wat ons aan ‘n binneband vasgemaak het. Op die ou einde het hulle my so deurgetrek na die ander kant toe.
Hy was gelukkig betyds vir die vergadering wat die middag 15:00 sou plaasvind en ook vir die konferensie die volgende dag.
“Dit was eintlik ‘n interessante ondervinding. Op die oomblik het die spruit redelik afgeloop en kan ons nou met die voertuie deurkom en voortgaan met ons werk.”




