Pa van vier sterf in ongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Geliefde pa van vier kinders is dood nadat hy in n motorfietsongeluk op die Barragepad naby die “Kruising van die dood” gesterf het.

Willem Swanepoel (42), ‘n sakeman van die Vaaldriehoek, was die Woensdagmiddag 6 April omstreeks 17:00 met sy motorfiets op pad na ‘n afspraak toe hy oorkant Alex Roadhouse vir ‘n stilstaande bakkie wat gewag het om te draai, uitgeswaai het.

Volgens Vaalweekblad het Swanepoel se motorfiets gegly en hy het in die pad geval, sekondes voordat ‘n aankomende bakkie oor hom gery het.

Hy het 20 minute later op die toneel gesterf.

Swanepoel se eksvrou, Elzett, en ook die ma van sy vier kinders, was verpletterend na sy die nuus ontvang het.

“Hy was altyd daar vir die kinders en vir almal wat hom nodig gehad het,” sê Elzett saam met wie hy 29 jaar gelede na Vanderbijlpark verhuis het.

“Hy was ‘n liefdevolle mens en ‘n regte grapgat. Almal het hom so liefgehad. Ons sal hom altyd onthou vir sy goeie hart.

“Hy was ‘n ware gesinsman en het dit geniet om te hengel, jag en snoeker te speel,” sê ‘n hartseer Elzett.

Swanepoel word oorleef deur sy kinders, Anuschka (18), Mikayla (13), Claudett (9) en Eduan (8), sy pa, André Kleyn, en broers Pieter en Joseph Swanepoel.

Alta du Plooy het namens AfriForum se plaaslike bestuur, meegevoel aan die Swanepoel-familie oorgedra en dit betreur dat die gesin ses ure in die koue op die toneel moes wag dat hul geliefde se liggaam verwyder word.

“Vir my as buitestaander was dit traumaties. Hoeveel te meer nie vir daardie mense nie? Ons weet Vanderbijlpark-polisie se brigadier en ‘n paar van haar polisielede probeer ‘n verskil maak, maar hul reaksie op nood raak nou ‘n groot probleem. Aan Stephanopark se buurtwag, AfriForum en die VRU-ouens wat onmiddellik beheer van die situasie en verkeer geneem en gehelp het totdat alles opgeruim is: Dankie vir die groot opoffering wat julle maak. Dit is eintlik die SAPD se werk, maar op dié manier help ons om ‘n verskil te maak.”

Haar raad is dat die publiek ‘n nommer van hul buurtwag, VRU of patrollie byderhand moet hou in geval van nood, omdat die polisie nie altyd vinnig reageer nie. “Dit kan jou lewe red,” sê sy.