Stacey-Lee Khojane is ‘n senior administratiewe assistent in die Engels-departement aan die Universiteit van die Vrystaat, en sy is nie bang om haar sê te sê nie.

Haar TikTok-naam is dj_stacey, met 130 000 volgelinge. Sy het in Augustus 2020 by TikTok aangesluit, nadat haar ouer suster by haar aangehou het om video’s saam met haar te doen. Sy het toe uiteindelik haar eie TikTok-rekening oopgemaak. Sy sien haarself nie as ‘n beïnvloeder nie, maar sy meen dat sy wel ‘n invloed kan hê. “Ek dink ek het deels ‘n invloed op mense wat my volg. Dikwels sien ek mense praat soos ek doen, so dit moet seker iets beteken,” skerts sy.
Khojane se eerste doel is om mense te laat lag. “Daar is klaar so baie probleme in die wêreld wat ‘n mens depressief maak. Om te lag, is altyd goed. Die ander doel is om die probleme in ons land uit te lig en mense te herinner dat ons die regering verantwoordelik moet hou vir al die korrupsie. Ek geniet dit ook om mense te motiveer en nooit moed op te verloor nie.”
“Ek geniet dit om mense te laat lag, ek weet dit kan hulle help om van ‘n slegte dag te vergeet en terselfdertyd te besef die lewe is nie so erg nie. My video’s het my laat besef dat, ongeag ras, ons almal dieselfde probleme ondervind en soortgelyke dinge geniet.”
Khojane is nie getroud nie en haar enigste kind is haar pragtige rottweiler, Chase. Hy is een jaar oud en sy sê hy is ‘n regte ‘’Mamma’s boy’’.
Daar is baie goeie beïnvloeders op sosiale media en sy sê sy kan nie regtig kies nie. “Ek sou sê nommer een ‘influencer’ vir my op TikTok is KaylaKimKay. Sy het haar 9 tot 5 werk gelos en ‘n besigheid begin, baie opgeoffer en haar besighede groei. Dit is inspirerend om te sien hoe ‘n bruin vrou uitblink in die lewe.
Ek volg nie regtig beïnvloeders nie, maar eerder mense/bladsye wat kennis deel oor dinge soos sielkunde, verhoudings, politiek, filosofie, geskiedenis, geestesgesondheid en ek geniet ook komiese inhoud. Baie van my dosente op universiteit was vroulik en het my so geïnspireer – die kennis wat hulle besit en passie vir onderrig, alles terwyl hulle gesinne het om tuis te versorg.”
Denzel Washington is vir haar die mees inspirerende en motiverende akteur, want behalwe sy uitstekende toneelspelvaardighede, moedig hy ook altyd mense aan om God eerste te stel in alles wat hulle doen.
“As ons daarop fokus om verenig te staan, ongeag ras of geloof, kan ons die probleme in hierdie land oplos. Hulle het ons so lank verdeeld gehou en hou aan om dit te doen, maar ons moenie fokus verloor nie, want op die ou end ly ons almal onder hierdie regering, so ons moet almal saamkom en hulle verdryf ter wille van ons kinders en hul toekoms. Ons kan maar heeldag lag op TikTok, maar die realiteit is dat ons land agteruit gaan en iets drasties moet gebeur!”



