Noord-Kaap se eie ‘Valentino’

Deel hierdie storie / Share this story

Denzil Pillay (34) is die Noord-Kaap se voorste ontwerper en ontwerp al klere vanaf 2017. Hy het in 2021 die Northern Cape Awards gewen vir beste mode-ontwerper. Hy woon nou in Kaapstad, maar sy wortels lê in Kimberley, waar hy gebore en getoë is.

Pillay vertel dat hy nooit gedink het hy sou in hierdie bedryf wees nie. “Dit was nooit deel van my planne om ‘n ontwerper te word nie. Onvoorsiene omstandighede het my gebring tot waar ek vandag is. Ek glo ek is geseën met talent en daar is nog so baie goeie dinge wat voorlê!”

Saam met sy ouers, het hy een suster en twee broers. Hy het skoolgegaan in Floors High, in Kimberley.

DP, of meer bekend as Denzil Pillay Designs, is ‘n groot voorstander van liggaams-positiwiteit. Vir Pillay en sy handelsmerk is dit belangrik om na sy kliënte se behoeftes om te sien, en vir hulle dít te bied wat hulle nie in winkels kan kry nie. Hy is ook lief daarvoor om nuwe modes te skep. Sy besigheid was wel hard geslaan deur die Covid-19-pandemie, maar hy sê sy kliënte-basis het verbasend gegroei, dus kon sy besigheid stabiel anderkant uitkom.

Hy sê hy sal so baie in die wêreld verander as hy kon, maar veroordeling is eerste op die lys. “Mense oordeel jou sonder dat hulle jou regtig ken. Maar aan die einde van die dag motiveer dit jou om die beste weergawe van jouself te word.”

Dit was vir hom ‘n groot verrassing toe hy aangewys is as die beste mode-ontwerper in die Noord-Kaap. “Ek was vir 11 jaar weg van Kimberley af, so om terug te kom en iets so belangriks te wen, was vir my ‘n groot mylpaal. Ek glo werklik dat harde werk die moeite werd is op die ou end.”

Hy deel ook sy raad aan opkomende ontwerpers: ”Glo in jouself. Daar gaan so baie uitdagings wees op die pad vorentoe maar jou harde werk en talent sal boekdele spreek. Selfs al het so baie deure toegegaan in my lewe, het ek nogsteeds ‘n manier gekry om dinge te laat gebeur.”

“As jy ‘n passie het vir enige werk, dan moet jy die nodige stappe neem om bo uit te kom. Dit mag dalk jare neem, maar ek glo ‘consistency is key’.”

Hier is die skakel na sy aanlyn winkel.