Victor Matfield, voormalige Springbok-rugbyspeler en Chauke Dumisani, netbaladministrateur vir Super Sport, het tydens die Absa Wildeklawer Sporttoernooi mediabekendstelling deelgeneem aan ‘n paneelbespreking oor die belangrikheid van die ontwikkeling van sport op skoolvlak.
Beide Matfield en Dumisani is ambassadeurs vir die Absa Wildeklawer Sporttoernooi.
Matfield, wat tevore twee jaar in Kimberley gebly het, sê die ekonomiese impak van die Absa Wildeklawer Sporttoernooi is onmeetbaar vir die stad en die provinsie. Matfield is een van die ouers wat Kimberley toe gaan vir die toernooi. “Ek is eintlik ‘n netbalpa, met drie dogters,” sê hy.
Hy het herhaal hoe belangrik dit is om sport te ontwikkel en hoeveel dit vir kinders beteken om weer te kan deelneem, nadat Covid-19 kinders verhoed het om aan sport deel te neem. “Baie mense kyk na hierdie geleentheid en dink dit is dalk die volgende Springbok-netbal- of rugbyspelers. Dit is ‘n geleentheid om aan ‘n span te behoort, om identiteit in ‘n span te voel. Dit is wat sport vir jongmense doen. Jong mense kan iemand word,” het Matfield gesê.
Dumisani het saamgestem. “Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, sport gee jou die geleentheid om iemand te word.” Sy sê jong meisies, wat uit klein dorpies en nedersettings kom, het die geleentheid om sport op ‘n hoë vlak te ervaar en dit is moontlik om iets groot te bereik.
Agt sokkerspanne sal ook deelneem, met vier spanne van die Motsepe-stigting. Dit is ‘n eerste vir die toernooi.
Die toernooi vind vanjaar vanaf 25 April tot 2 Mei in Kimberley by Laerskool Newton, Hoërskool Diamantveld en Kimberley Boys’ High plaas.
“Ons sien daarna uit om hierdie toernooi vanjaar aan te bied, met 182 spanne wat deelneem uit 85 skole en 4 439 deelnemers en beamptes wat by Kimberley verwelkom word vir hierdie gesogte geleentheid. “Die geleentheid kon vir twee jaar nie plaasvind nie weens Covid-19,” het Cassie Carstens, bedryfsbestuurder van die toernooi, gesê.
‘n Eerste vir die toernooi vanjaar sal ook die sokkertoernooie wees.
Hier is ‘n volledige uitsending van die aand, met gesogte gaste, insluitend dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, Kagisho Dante Sonyoni, burgemeester van Sol Plaatje Munisipaliteit, Chauke Dumisani, netbalafrigter en ontleder, Victor Matfield, voormalige Springbok-rugbyspeler, Stonie Steenkamp, Absa Besturende Bestuur: Streekdekking, Sentraal-Suid-Afrika en Cassie Carstens , bedryfsbestuurder van Absa Wildeklawer Sporttoernooi.



