Gietende reën en grondstortings het KZN sedert Sondagaand getref en honderde mense verplaas. Terwyl noodleniging en herboupogings aan die gang is, het Eskom beurtkrag aangekondig.
Die EFF het gesê die implementering van kragonderbrekings in geaffekteerde gebiede is “onmenslik” en sal “aktief die trauma, ontwrigting en dood van ons mense aanhelp”.
Die party het ‘n beroep op die kragvoorsiener se leierskap gedoen om “selfbeheersing, deernis en basiese menslikheid te beoefen en nie die mense van KwaZulu-Natal aan duisternis te onderwerp terwyl hulle probeer om hul lewens bymekaar te kry en ‘n natuurramp moet trotseer nie”.
Die party het ook die regering se beweerde gebrek aan optrede gekritiseer en sê dat dit ‘n jaarlikse werklikheid geword het vir inwoners om in vrees te lewe.
DA-leier in die KwaZulu-Natalse wetgewer, Francois Rodgers, het ‘n beroep op premier Sihle Zikalala en plaaslike regering gedoen om in te gryp in gebiede wat die ergste getref is.
“Gegewe die omstandighede het die provinsiale regering ‘n plig om te verseker dat diegene wat erg geraak is nie in enige verdere ellende gedompel word as gevolg van beurtkrag nie. Beurtkrag word deur munisipaliteite bewerkstellig, wat beteken beide die premier en die LUR het die gesag om te verseker dat die ligte nie afgesit word nie,” het hy gesê.
Bronne: MSN, The World News
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Kyk: Skrikwekkende modderstortings spoel deur huise in Durban



