Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (SANEF) sê in ‘n verklaring dit is ontsteld oor die benoeming van die Tembisa-tienling-saga op die kortlys vir die komende Global Media-toekennings.
Hierdie storie, wat wêreldwyd opslae gemaak het, is verlede jaar vir die eerste keer gepubliseer deur Pretoria News, en is ingeskryf onder die kategorie vir die “Beste gebruik van sosiale media” deur die International News Media Awards (INMA). SANEF het aan INMA geskryf om sy kommer uit te spreek, maar ten spyte hiervan bly die videoreeks een van die benoemings.
Dit volg nadat Independent Media, wat Pretoria News besit, ‘n YouTube-reeks vrygestel het oor mensehandel wat spesifiek oor die babamark (die “baby trade”) handel.
Na bewering fokus die reeks op die tipe handel wat in Gautengse hospitale sou plaasvind, en is daar beweer dat die Tembisa-tienling moontlik ontvoer of verhandel was.
“Ons vind dit ook heeltemal onbevredigend dat die INMA in sy antwoord sê dat die beoordelaars “die kwaliteit van die sosialemedia-veldtog beoordeel het, maar nie die storie self nie”. INMA het verder gesê dat dit “nie in ‘n posisie is om hul jurie se kortlysbesluit rondom die sosialemedia-veldtog om te keer nie. Die bykomende konteks van die storie sal opgeweeg word wanneer die wenners in Junie 2022 deur INMA aangekondig sal word.”
“Hierdie reaksie is ongelukkig nie goed genoeg vir SANEF nie, aangesien dit ‘n veldtog legitimeer wat voortspruit uit ‘n storie wat bewys is dat dit nie net belaglik is nie, maar ook ‘n verleentheid vir joernalistiek in Suid-Afrika is,” sê SANEF.
“Ongelukkig duur die verleentheid voort, aangesien dieselfde koerantgroep, ‘n betalende lid van INMA, voortgaan om meer stories te publiseer wat poog om die legitimiteit van die tienling se sogenaamde geboorte voor te gee. Dit is belangrik om daarop te let dat die tien babas nog gesien moet word en geen bewys nog ooit gelewer is dat hulle wel bestaan nie,” sê SANEF verder.”
Hierdie verslag het geen grondslag in die waarheid nie, is feitelik onakkuraat en dra by tot die verspreiding van disinformasie, wat doelbewus gehore mislei.”
“Soos die Junie 2022-toekennings vinnig nader kom, doen ons ‘n beroep op die INMA om sy standpunt te heroorweeg. Die tienling-verslag is veroordeel deur die Gautengse provinsiale regering, en mediese personeel in die algemeen, met alle sleutelrolspelers wat hulle daarvan distansieer.
“SANEF doen ‘n dringende beroep op INMA, as ‘n besigheid wat met gerespekteerde uitgewers wêreldwyd geassosieer word, om die kortlys van hierdie stuk onmiddellik uit hierdie kategorie te verwyder, en kennis te neem dat die aanvanklike storie deur die ombudsman gemerk is dat dit ‘versuim om die basiese beginsels van joernalistiek te slaag’ en neergekom het op ‘n ‘hoax’.”



