‘Swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie bemagtig niemand,’ VF Plus

Deel hierdie storie / Share this story

Wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) bemagtig niemand in Suid-Afrika wesenlik nie, dit ontmagtig mense eerder. Dit het ook die onbedoelde gevolg om verál jong mense uit minderheidsgroepe teen wie dié wette diskrimineer, te motiveer om te presteer ten spyte van regeringsbeleid, so sê Fanie du Toit, VF Plus-LP in NRP (Noordwes).

“Die VF Plus wys reeds sedert 1994 daarop dat sulke uitsluitende wetgewing bloot nuwe vorme van diskriminasie skep en geen bydrae tot ekonomiese groei sal lewer nie.

“Slegs ʼn klein groepie polities gekonnekteerde mense het hierby baat gevind en groot rykdom versamel terwyl die groter bevolking in armoede verval het. Dit het gelei tot ʼn kultuur van selfverryking en korrupsie met aanstellings in die staatsomgewing wat die algemene verval van die staatsdiens bespoedig het.”

Die besef dat hierdie wetgewing en ANC-beleid ʼn werklike bedreiging vir die land se toekoms inhou, het reeds wyd posgevat. Ekonome en akademici soos Moeletsi Mbeki en William Gumede het dit reeds talle kere gestel dat die beleid geskrap behoort te word en dat vrye ekonomiese groei en entrepeneurskap bevorder moet word. Die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) het Suid Afrika ook in ʼn onlangse verslag gemaan dat beperkende arbeidswetgewing en ʼn oorgereguleerde ekonomiese omgewing ekonomiese groei ondermyn.

Die IMF het ook daarop gewys dat dit bydra tot die groot gaping in rykdom in die land. Terwyl die ANC-regering ʼn omgewing van verval in staatsafhanklikheid en agteruitgang bewerkstellig het, het ʼn groot aantal jongmense die dwaasheid van regeringsbeleid ingesien en self op innoverende wyses aan hul toekoms begin bou. Minderhede in die algemeen en jong entrepreneurs in besonder lewer reeds ʼn bydrae buite verhouding tot ekonomiese groei en werkskepping.

Die onbedoelde gevolg van die ANC se rasgedrewe beleid was dus ʼn reaksie van selfbemagtiging onder minderheidsgroepe in Suid Afrika. Die VF Plus sal voortgaan om selfbemagtiging van minderhede in alle sektore en op alle vlakke van regering te bevorder tot voordeel van die hele land.

Die ANC-regering bevind hom met sy rasgedrewe en sosialistiese beleidsrigtings aan die verkeerde kant van die geskiedenis en bedreig só almal in die land se toekoms.