‘n 17 maande oue kleuter is dood nadat sy deur ‘n hond verskeur is.
Bella-Rae Birch is Maandagmiddag tydens ‘n gru-aanval wreed by haar ouerhuis deur ‘n Amerikaanse bulhond verskeur, berig Daily Mail.
Plaaslike inwoners het Bella se ma, Treysharn Bates, histeries hoor huil terwyl nooddienste op pad was na die huis, maar die kind het aan haar wonde beswyk nog voor haar aankoms by die hopsitaal.
Dis nog onbekend hoe die hond van die kleuter verwyder is.
Die hond, wat Bella se pa, Ryan Birch, slegs twee weke voor die aanval gekoop het, is intussen van kant gemaak en ‘n ondersoek is van stapel gestuur om vas te stel of die hond ‘n onwettige ras is ingevolge die Wet op Gevaarlike Honde 1991.
Bella-Rae se familie het in ‘n verklaring wat deur die polisie vrygestel is gesê sy sal baie gemis word en nooit vergeet word nie.
Volgens inwoners was dit ‘n verskriklike toneel om te aanskou en “sal nie eers ‘n volwasse man ‘n kans staan teen so hond nie,” sê een van die bure.




