Nuwe maatreëls vir die aangepaste vlak-1 van inperking

Deel hierdie storie / Share this story

President Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand weer die land toegespreek oor die verwikkelinge in Suid-Afrika se reaksie op die Covid-19-pandemie. Dit volg te midde van die nasionale ramptoestand wat tans verleng is tot 15 April.

In sy toespraak het Ramaphosa gesê die afgelope twee jaar is almal se lewens drasties verander weens die Covid-19-pandemie, met bykans 2 miljoen mense wat hulle werk verloor het. Hy het verder gesê die pandemie het ‘n erge impak op die ekonomie van Suid-Afrika gehad.

Volgens die president word minder mense ernstig siek as hulle die virus kry, en dat Suid-Afrika reg is vir nuwe maniere om die virus te bestuur.

Ramaphosa het verder gesê die nasionale ramptoestand sal opgehef word sodra openbare kommentaar oor die voorgestelde konsepregulasies afgehandel is.

Hy het egter beklemtoon dat die ophef van die nasionale ramptoestand nie die einde van die pandemie beteken nie.

Ramaphosa het egter bekend gemaak dat aanpassings aan die aangepaste vlak-1 van inperking sal geld vanaf Woensdag 23 Maart sodra dit in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die nuwe aanpassings is as volg:

Binnenshuise en buitelugbyeenkomste mag nou tot 50% van hulle kapasiteit gebruik mits ‘n inentings-sertifikaat of ‘n negatiewe Covid-19 toets, nie ouer as 72 uur nie, by toegang getoon kan word.

Die aantal mense wat nou begrafnisse mag bywoon, is ook verhoog van 100 tot 200, maar na-begrafnisgebeurtenisse soos die sogenaamde “After Tears” word steeds verbied.

Volgens die aangepaste vlak-1 van inperking is daar ook veranderinge in die dra van maskers. Die dra van maskers in die buitelug is nie meer verpligtend nie. Dieselfde geld vir buitelugbyeenkomste. Die dra van maskers by binnenshuise byeenkomste of openbare sentrums, asook op publieke vervoer, is egter steeds verpligtend.

Verder is daar ook veranderinge aan die gesonde-afstand regulasies aangebring, en word sosiale afstand verkort na slegs 1 meter.

Internasionale besoekers mag die land besoek, maar moet ‘n bewys van inenting of ‘n negatiewe Covid-19 toets, nie ouer as 72 uur nie, kan toon. Besoekers wat nie ingeënt is nie, sal ‘n inenting in SA kan ontvang indien hulle so besluit.

Dié berig is deur Rosestad 100.6FM verskaf.

Lees ook: Holocaust-oorlewende dood in Russiese bombardering van Kharkiv