‘Ek is op 11 deur my stiefpa verkrag’

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Dogtertjie wat haar stiefpa wat vierjarige ouderom af as haar eie pa aanvaar het, dra nou, 11 jaar later, die letsels ná hy haar vir twee jaar aaneen verkrag en seksueel mishandel het.

Ons praat met die meisie (nou 16) se ma oor die verskriklike gebeure, hoe dit haar en haar dogter se lewens vernietig het, die impak wat verkragting oor die algemeen op kinders het en hoe uiters belangrik dit is dat kinders besef daar sal altyd ‘n volwassene wees wat sal luister.

Die ma van Randburg in Gauteng, wat ter wille van beskerming en privaatheid anoniem sal bly, vertel hoe sy ná twee jaar se mishandeling uiteindelik agtergekom het waarom haar dogter haar van alles in haar lewe onttrek en selfmoordneigings kry.

Sy vertel sy het aan die begin van 2017 ‘n dubbele mastektomie gekry en ook rekonstruksie ná kanker by haar gediagnoseer is. Sy sê sy was op sterk pyn- en slaapmedikasie ná die operasies en dat dit toe is wat haar eks-man en haar dogter se stiefpa vreeslik begin drink het en “homself op die sitkamerbank geplak het”.

Haar dogter was in die laerskool.

“Ek het agtergekom dat sy haar onttrek van alles. Sommige aande sou sy net in die kamer sit en huil. Ek het haar gevra: ‘My blommetjie, wat is fout?’ My 11-jarige dogter wou nie meer lewe nie. Ek het mooi met haar gepraat, vir haar gesê dat sy te jonk is vir sulke gedagtes en dat daar baie mense is wat vir haar lief is. Haar emosies het egter net erger geraak en sy het al meer onttrek.”

In September 2019 kon haar dogter die moed bymekaarskraap om met haar ma te praat. “Sy het vir my gesê hy vat aan haar binnebeen. Ek het hom daaroor aangevat, en hy het drank blameer en gesê dat hy niks kan onthou nie. Ek het vir hom gesê as hy net skeef na my kind kyk, sal ek hom laat toesluit.”

“Dit was vir my baie belangrik om van ‘n jong ouderdom af vir my dogter en my seun (nou 22) te leer dat niemand aan hulle lyfies mag vat nie. Nie eers mamma of pappa nie.”

Sy het aan die einde van 2019 weer vir haar dogter gevra of haar stiefpa weer enigiets probeer het, ná hy ‘n rehabilitasieprogram vir sy drankprobleem voltooi het.

“Sy het gesê nee. Toe ek haar die dag by die skool gaan aflaai, het sy gesê dat sy nie vir my alles vertel het nie. Ek het daai dag huis toe gegaan en op en af geloop terwyl ek gewag het dat ek haar kon gaan haal.”

Die ma vertel toe sy die middag haar dogter by die skool gaan haal, het sy haar van die dinge vertel wat haar stiefpa aan haar gedoen het.

“Ek het haar onmiddellik na veiligheid gevat en op 4 November het ons die saak by die polisie gerapporteer.”

Sy vertel hoe haar eks-man in die hof na strooihalms gegryp het en nie ‘n voet gehad het om op te staan nie.

Dudley Honey, ‘n prokureur wat die saak “geshadow” het, het met FiND iT gepraat oor die verkragter se getuienis. “Hy het aanvanklik erken dat hy sy stiefdogter seksueel mishandel het, maar het die verkragting ontken. Verkragting is egter nie noodwendig seksuele omgang nie, maar enige vorm van penetrasie.”

Hy sê die man is op aanklagte van seksuele mishandeling én verkragting skuldig bevind en dien tans sy vonnis uit. Hy het ook tydens sy getuienis beweer dat die seksuele misdade plaasgevind het met die meisie se toestemming.

Die ma vertel hoe haar dogter nou jare later steeds letsels het van dit wat haar stiefpa aan haar gedoen het. “Sy is verlede jaar in ‘n rehabilitasiesentrum opgeneem vir trauma en ervaar nou nog terugflitse van wat gebeur het. Ons het nou ‘n baie oop verhouding en praat oor alles.”

Sy vertel haar dogter is nou selfs te bang om in ‘n verhouding te wees en dat sy onlangs na net drie dae met haar kêrel uitgemaak het. “Sy sê sy kan dit nie hanteer nie en dat sy nie reg is vir dit wat vandag se seuns by meisies wil hê nie.”

Die ma sê dis vir haar belangrik dat mense besef hoeveel ander kinders daarbuite stilbly omdat hulle te bang is om te praat. “Nie almal besef watter impak dit op ‘n kind se lewe het nie. Hy het my kind se lewe vernietig.”

“Sy het hom Pappa genoem. Hy was die pa-figuur in haar lewe wat haar moes beskerm. En eintlik het hy net gewag vir die regte ouderdom voor hy in ‘n monster verander het.”

Die ma sê sy beplan om vir eers haar kind gesond te kry voor sy skole gaan besoek om kinders toe te spreek. “Kinders moet nooit dink dat daar nie iemand sal wees wat sal luister nie.”

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: “Vergewe my Here,” smeek Senekal-boer