Verdagtes in hegtenis oor onwettige kreefsterte

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens ‘n persverklaring deur die Suid-Afrikaanse polisiediens staan twee mans ​​tereg op aanklagte van die onwettige besit van kreefsterte ter waarde van R1,1 miljoen.

Lede verbonde aan die Weskus Flying Squad het Vrydag 11 Maart 2022 twee verdagtes, onderskeidelik 19 en 36 jaar oud, in hegtenis geneem, vir die besit van kreefsterte op die Paternosterpad rigting Vredenburg.

Die lede het inligting ontvang oor ‘n wit Ford Ranger met twee insittendes wat die kreefsterte vervoer.

Dit volg nadat talle krewe ná ‘n rooigety terug in die see gegooi is. Die voertuig is opgemerk en afgetrek. Met die deursoek van die voertuig het die lede sakke gevul met kreefsterte agter in die voertuig gevind. Altesaam 17 534 sterte is getel met ‘n geraamde straatwaarde van R1,1 miljoen.

Die verdagtes het Maandag 14 Maart 2022 in die Vredenburg-landdroshof verskyn.