Walk-by-Faith Soup Kitchen

Deel hierdie storie / Share this story

Gregory Taylor, ‘n ontvangsklerk van Monument Spar in Kimberley, is al ses jaar besig om mense wat minder bevoorreg is, te help. Oor die jare het hy uitgereik na mense deur vir hulle klere en iets om te eet te gee. “Alles het gebeur met die hulp van familie, vriende, kollegas en selfs wildvreemde mense.”

Hierdie onderneming, wat gebaseer is in Santa, Kimberley, het eers sy huidige naam in Augustus 2020 gekry. “Die Heer het vir ‘n my in ‘n visioen die naam van Walk-By-Faith Soup Kitchen gegee. Hoekom Walk-By-Faith? Want ons maak net staat op ons geloof vir elke projek.”

Hy het in dié stadium slegs drie vrywilligers wat hom getrou help. “Verlede Vrydag het ek nog drie mense van Diamond Park gehad wat ons gehelp het, pastoor Angela Douland was een van hulle. Yolandie du Toit van ‘On the Dot’ was ook saam met ons, as deel van haar liefdadigheidsverpligtinge.”

Covid-19 het wel hierdie onderneming negatief beïnvloed, omdat hulle nie meer so beweeglik kon wees nie. “Ons kon nie regtig meer uitreik soos in die verlede nie en ons het baie mense verloor daardeur.” Hulle kon altyd meer as 150 mense bystaan, maar tans help hulle so tussen 70 en 100 mense.  

Taylor het ‘n yslike passie vir mense. Hulle lewer elke derde of vierde maand af, meestal in Santa. ”As daar ekstra klere, skoene en ander goedere is, dan besluit ons oor ‘n gemeenskap in Kimberley en reik dan uit na hulle.” Hulle staan ook op teen gesinsgeweld teen vroue en kinders.

Hy poog ook om die kinders van die straat af te hou, deur hulle smiddags vaardighede te leer, byvoorbeeld rekenaarvaardighede of naaldwerk. Vir hierdie doel kon Taylor al twee rekenaars bekom, maar het nog nie elektrisiteit om hierdie planne ‘n werklikheid te laat word nie. Hy wil ook graag die gemeenskap drie keer per week iets gee om te eet, maar die finansies maak dit nie altyd moontlik nie.

“Ons wil ook daarna kyk om die Departement van Gesondheid te betrek, om ons ouer mense een maal elke twee maande te besoek en hulle te ondersoek, bloedsuiker te meet en so. Ons wil en sal ‘n verskil bring in ons gemeenskap en ook so in Kimberley. Want dit wat hier gebeur, moet kan uitbrei na ander gemeenskappe in Kimberley. Dit is my droom.”

Walk-By-Faith is onder CIPC geregistreer as ‘n nie-winsgewende organisasie en ook by Maatskaplike Dienste. Hulle wag nog vir Maatskaplike Dienste se sertifikaat.

Taylor sê hulle reik uit na mense wat ‘n behoefte het. “Ons probeer om hulle te laat verstaan dat hulle spesiaal is, en dat Jesus vir hulle lief is, ongeag hulle omstandighede of situasie.”

Taylor bedank ook almal wat al skenkings gemaak het, en voeg by dat as enigiemand donasies wil maak, hulle hom gerus kan kontak by 062 956 4034 of vir Nolene Heinz by 079 839 0563.