Sydney Berry verhoor weer uitgestel

Deel hierdie storie / Share this story

Volgens die Oudtshoorn Courant is die verhoor van Sydney Berry, wat teregstaan op aanklagte van strafbare manslag en versuim om hulp te verleen, weereens uitgestel.

Die verhoor het Vrydag in die Oudtshoorn-streekshof begin.

Berry het na bewering die motorvoertuig bestuur waarin die 18-jarige matriekleering, Marilize Nortier, die aand van 22 September 2019 gesterf het.

Volgens Bulelani Bans, regsverteenwoordiger van die beskuldigde, kan Berry nie “onthou wat tot die ongeluk gelei het nie.”

“Berry en sy vriende was die betrokke aand by Die Braai Kraal, ‘n kuierplek op Oudtshoorn, en sou hy by ‘n vriend oorslaap,” sê die koerant.

“Die oorledene was ook saam met haar vriende by dieselfde kuierplek.”

“Berry was vroeër die aand met haar in ‘n gesprek, en toe hy en sy vriend kort voor toemaaktyd wou ry, het sy by hulle aangesluit.”

“Nadat hy sy vriend buite Oudtshoorn afgelaai het, was hy en die oorledene op die Grotte-pad onderweg na Oudtshoorn, toe die ongeluk gebeur het.”

“Volgens hom, wat hy kan onthou, “was sy heeltyd op haar selfoon, maar hy weet nie met wie sy gesels het nie.”

Sy was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is.

Volgens ‘n nadoodse ondersoek het sy verdrink.

“Die saak is Vrydag na die kruisondervraging van Botha, ‘n getuie, vir verdere getuienis tot 20 en 21 April uitgestel.”

Foto van Berry deur Hannes Visser / Oudtshoorn Courant.