Annien Müller (22), ‘n oud-leerder van Potchefstroom Gimnasium, het Sondag gesterf nadat sy haar kêrel, wie se voertuig gerol het, probeer help het.
Volgens Afrinuus is sy na bewering deur ‘n ander voertuig op die gras tussen twee hoofweë getref.
Een van haar vriende het aan FiND iT bevestig dat Annien gesterf het ná sy ‘n troue van haar tweeling-suster bygewoon het. Na bewering, op pad huis toe, het haar kêrel wat in ‘n ander voertuig gery het, beheer oor sy voertuig verloor en dit het gerol.
Sy het inderhaas langs die N14-pad gestop om hom probeer help, toe ‘n ander voertuig in haar vasgery het.
Haar kêrel, Reino von Wielligh, het die ongeluk oorleef.
“Dit is met leedwese wat Gimmies kennis geneem het van die afsterwe van een van ons oud-leerders, Annien Muller, wat in 2017 een van die onder-hoofdogters was,” skryf Potchefstroom Gimnasium op Facebook.
“Ons dink in ons gebede aan hierdie gesin en familie. Mag ons Hemelse Vader vertroosting, krag en wysheid gee in hierdie moeilike tyd.”
Medelye het intussen op Facebook ingestroom vir dié oud-Gimmie en mediese student by Tukkies.



