Om 95 jaar oud te wees en steeds gesond en daagliks aan die gang te wees, is ‘n voorreg wat nie baie mense beskore is nie. As jy boonop elke dag nog steeds kan werk en dit doen waarvoor jy lief is, kan dit sekerlik as ‘n tipe boerpot gesien word wat jy gewen het.
Johannes Petrus Botha, vernoem na haar pa, maar beter bekend as tannie Tolla, se hande staan vir niks verkeerd nie. Vir dié flukse tannie, wat daagliks na die aftree-oord se tuin omsien, is ouderdom net ‘n getal.
Tannie Tolla het in Brandsiekfontein op ‘n plaas grootgeword en na skool Johannesburg toe verhuis waar sy toe getroud is en as boekhouer, verpleegster en tesourier gewerk het.
Nadat haar broer siek geword het, en nie meer langer kon boer nie, het sy teruggekeer plaas toe om na hom om te sien en die boerdery aan die gang te hou.

Hier het sy vrou-alleen, tot op die ouderdom van 86 geboer, voordat sy in 2012 na die Heuwelsig-aftree-oord getrek het waar sy in ‘n selfsorgwoonstel gebly het.
Tannie Tolla het vroeg in 2020 na Mimosahof- residensiële fasiliteit vir ouer mense getrek en dis hier waar sy elke dag in die tuin werk.
“Soggens vyfuur is sy al in die tuin besig om onkruid uit te trek, blomme te plant of die meerkatte kos te gee. In die winter is dit ‘n storie om haar net bietjie langer binne te hou dat sy nie so in die koue is nie,” vertel Magda Swanepoel.
“Tannie Tolla is ‘n groot gunsteling hier en vir haar ouderdom nog so gesond en aktief. Op 95 is sy op geen pille nie, behalwe vitamiene en wanneer jy haar soek, is sy altyd iewers in die tuin besig.”





