Kies die regte gesonde kosse vir jou baba

Deel hierdie storie / Share this story

Om ‘n baba te leer eet, is ‘n prettige avontuur vir die ma en baba en hiermee gaan smaak en gesondheid hand aan hand.

Toe Anneke Joubert (33) se dogtertjie in 2017 gebore is, en dit tyd geraak het vir haar om te eet, wou sy graag gesonde, voedsame kosse sonder onnodige suikers, soute en ander preserveermiddels vir haar gee. Sy het dus besluit om self vir haar kos te maak sodat sy presies weet wat dit bevat.

Sy het gesien hoe baie kinders van gekoopte, ongesonde kitsnoedels lewe. Dit was haar doel om ‘n gesonder, tuisgemaakte weergawe te maak en dit aan plaaslike mammas te begin verkoop. Daarna het die gogga haar gebyt en was haar doel om oook ander geriefskosse, wat baie gesonder is, te probeer maak en so is Bouter Happies gebore.

“Om ‘n besigheid soos dié van die grond af te begin, was nie aldag maklik nie. Dit verg baie lang ure, geduld, harde werk, uithouvermoë en baie ure op jou knieë,” vertel Anneke.

“Ek was self ‘n ma met ‘n voltydse werk en ek weet hoe skuldig mens soms kan voel as jy enige geriefskos vir jou kind gee. As gekwalifiseerde dieetkundige was my doel met Bouter Happies om mammas minder skuldig te laat voel en hulle die gerustheid te kan gee dat hierdie kosse hoogs voedsame kosse is wat alles ‘n vorm van groete en vrugte bevat en dat dit heeltemal vry is van byvoegend suikers, soute en preserveermiddels. Daar is ook gluten, eier- en suiwelvrye produkte vir enige babas en kleuters wat sukkel met allergieë.”

Hierdie kosse wissel van sjokoladedrankies sonder suiker, kitspastasouse, speserye, poeier-babakosse en ‘n suikervrye stokkielekker, alles met bygevoegde groente. Dit word aanbeveel vanaf agt maande, maar daar is ook kitspap en babakos wat geskik is vir ses maande oue babas.

Bouter Happies het oor die laaste twee jaar so gegroei dat Anneke dit nou voltyds kan doen en die kosse is ook nou te koop by Spar op Kuruman, asook van haar aanlyn winkel.