Sowat 170 persone is geassesseer en 60 van hulle is in die hospitaal opgeneem ná ‘n vermoedelike gaslek by ‘n universiteit se studentekoshuis in Parktown.
Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê ER24, Stad Johannesburg EMS en ander dienste is kort voor 18:00 na die toneel ontbied nadat talle studente van kortasem gekla het.
“By hul aankoms het noodwerkers gevind dat talle studente van 18 jaar en ouer reeds die geboue ontruim het en op die sypaadjie en in die straat saamgedrom het. Medici het ‘n triage-area opgerig en na die pasiënte begin omsien en ongeveer 170 mense geassesseer,” het hy gesê.
Meiring het gesê ná die assesserings het medici sowat 60 pasiënte na nabygeleë hospitale in die area vervoer.
“Die oorblywende pasiënte het verdere behandeling of vervoer na ‘n hospitaal geweier. Die presiese besonderhede oor hierdie voorval is onbekend, maar plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.”
Dit is nog nie duidelik watter universiteit of koshuis betrokke was nie.
Bronne: The World News, MSN
Volg FiND iT hier.
Lees ook: Brad Pitt ‘verpletter’ nadat Angelina Jolie belang in wynlandgoed verkoop



