Chrisna en haar verloofde Damian is een van daardie paartjies wat weet dat hulle paaie bymekaar moes uitkom. Hulle gaan nou ‘n jaar uit, maar het na ses maande verloof geraak, omdat hulle, soos hulle dit so mooi stel, oortuig is van mekaar.
Hulle was altwee in Bloemfontein se Hoërskool Jim Fouché. Damian het in 2013 gematrikuleer en Chrisna in 2017. Op skool het hulle nie veel kontak gehad nie; hy was in matriek toe sy graad 8 was. ‘n Paar jaar na skool het Damian haar op Instagram gekontak en dit het gelei tot ‘n pragtige verhouding. Na ses maande saam het hulle verloof geraak in Kaapstad by ‘n spesiale plek wat baie betekenis vir hulle inhou.
Dié twee het hope pret in hulle verhouding, hulle hou dinge interessant. “Ons is lief vir unieke, onbeplande afsprake. Ons was al selfs vir ‘n “date” DBV toe, om te gaan diere kyk. Ons mag dalk, of dalk nie, ‘n hondjie baie onbepland so aangeneem het!” Damian word 27 en sy word 23, en Chrisna sê hulle ouderdomme werk lekker saam.
Chrisna doen hierdie jaar haar arbeidsterapie-gemeenskapsdiens op Frankfort, en Damian volg sy musiekloopbaan na. Hy sing en speel kitaar by funksies en troues, en het laasjaar sy eerste enkelsnit “Forevermore” vrygestel. Damian het besluit om saam met Chrisna Frankfort toe te trek toe sy daar geplaas is vir haar gemeenskapsdiensjaar. Hy sing en speel gereeld vir haar.
Hulle raad aan ander jong paartjies is: “Identifiseer mekaar se liefdestaal, dit help om te verstaan hoe jou ‘partner’ wys hy/sy is lief vir jou. Ons is lief daarvoor om saam kos te maak en huishoudelike take saam te doen. Elkeen weet waarmee hy/sy goed is en dis ‘n manier om saam tyd te spandeer.”
“Ons leer mekaar se stokperdjies aan as ‘n manier om saam tyd deur te bring. Damian brei al saam met my en luister selfs na klassieke musiek! Ek kan al so twee uit drie gholfballe raak slaan.
“Moenie ophou werk vir mekaar nie. Verrassings en aandag tot ‘needs’ help lekker hiermee. Bêre tegnologie as julle saam is, spandeer tyd saam op ander maniere soos bordspeletjies of maak saam ‘n boek waarin julle foto’s plak en briefies vir mekaar skryf. Dié boekding werk selfs vir ‘n langafstandverhouding. En neem baie diere aan!”
Die beste beproefde manier om konflik tussen hulle twee op te los, is roomys. “Koop net vir Chrisna roomys, dan is alles vergewe. Damian is baie goed met konflikhantering, en dit gebeur min dat ons lank kwaad bly.” Kommunikasie is vir hulle altwee eerste op die prioriteitslys. “Geen silent treatment nie. Dit werk nooit nie.”
Sodra hulle dinge uitgewerk het, is ‘n vyf minute lange drukkie, waarvan die tyd op ‘n foon gemeet word, vir hulle baie belangrik.
Die goue reël in hulle verhouding: “Ons gaan slaap nooit ooit kwaad nie. Ons let baie mooi op na mekaar se liefdestaal en besef ons wys op verskillende maniere dat ons lief is vir mekaar.”
“Ons het baie vinnig gegaan in ons verhouding toe ons aanvanklik ontmoet het, maar ons het werklik van die begin af geweet dit moet wees. Beide van ons was albei lank enkellopend (soos, járe lank) voor ons bymekaar uitgekom het en net die manier hoe ons bymekaar uitgekom het en hoe alles uitgewerk het vir ons, was uit en uit God se werk. Die twee van ons is bitterlik gelukkig saam en ek kan nie ‘n dag sonder Damian indink nie. Hy is baie, baie goed vir my.”
Damian en Chrisna beplan om middel Desember te trou, as finansies en Covid dit toelaat.



