Die Voortrekkers groet ‘n geliefde

Deel hierdie storie / Share this story

Die Voortrekkers se gebiedsleier vir die Vrystaat, Willie Engelbrecht, beskryf wyle Chris Giliomee as ʼn reus met ʼn baie klein hart. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy was ʼn lojale en ‘n baie betroubare man.

Giliomee het op die aand van 4 Februarie tragies verdrink nadat vloedwater hom meegesleur het, toe hy wou seker maak die koorlede wat daar kampeer het, van Betlehem se Hoërskool Witteberg, was veilig.

Die begrafnis is op 13 Februarie gehou.  Dit was ʼn verassing en die roudiens was op Doornkloof.  Giliomee se as is in die gedenkmuur op Doornkloof geplaas. Hy kon baie goed sweep slaan en omdat hy dit altyd by afsluitingseremonies gedoen het, is daar ‘n sweep geslaan by sy troosdiens as ‘n besondere saluut. Huldeblyke het van orals ingestroom en op sosiale media het een vrou gesê:” In my kop hoor ek ‘Die bome roep, die klowe roep na jou’. Al wat ek kan sê, is ons harte is saam seer.”

Willie sê die spruit is nie ʼn gevaar nie en was nog nooit nie.  “In die 80 jaar wat Die Voortrekkers Vrystaat die plaas besit, was daar nog nooit so ‘n grootskaalse vloed nie, nie eers in 1988 met die groot vloede nie.  Dié is ʼn totale frats wat niemand voorspel het of enigsins verstaan nie.”

Van die gebeure van daardie ongelukkige nag, vertel hy:” Ek was nie op Doornkloof nie, wel in Bloemfontein. Daar was swaar reën, ongeveer vanaf 16:00. Ongeveer om 22:00 het ons telefonies met Chris gesels en het hy genoem dit reën baie hard. Daar was geen kommer nie, want dit is ʼn baie natter jaar as ander jare. Hy het wel rondom 22:30 van sy plaashuis na die kampterrein gestap om seker te maak almal is reg in die stormweer. Op pad na die saal het hy oor ʼn grasperk gestap en ʼn massa vloedwater het hom oorval waarna hy tragies in die vloedwater verdrink het. Geen ander persoon het seergekry nie. Ons beskou Chris se optrede as onbaatsugtig, want hy het sy lewe opgeoffer vir die kampeerders. Dis wie hy was. ʼn Mens-mens wat baie omgegee het, veral vir kinders.”

Daar is ook baie skade aangerig. Die assessors is nog besig om die skade na die vloed te bereken, maar dit is te vroeg om met sekerheid bedrae te kan noem. Daar is egter baie groot skade aan strukture, toerusting en die omgewing aangerig.

Vir sy Voortrekker-familie gaan Giliomee se handewerk die meeste gemis word. “Hy kon alles doen. Ons kon enigiets vra en Chris kon planne maak en dit doen.”