Baie mense vrees die pes wat in ons midde is. Die angs van die dood en die gevolge van die siekte maak dat mense hul lewens verander, na die sogenaamde ‘nuwe normaal’. Maar wat gebeur met ons nadat ons die pes onder lede gehad het? Verval die angs? Of verander dit? Dit is ‘n vraag wat nie een spesifieke antwoord het nie. Elke persoon gaan anders reageer.
Daar is daagliks verhale van mense wat een of ander letsel oorgehou het nadat hulle Covid-19 gehad het, of dit nou longprobleme of gedurige moegheid is. Vir mense wat aan onderliggende siektes, soos respiratoriese siektes, ly, waarvan hulle partykeer nie eers weet nie, kan Covid-19 die dood beteken.
Volgens ‘n pastorale berader van Pretoria verminder baie voormalige Covid-19 pasiënte se angs nadat hulle die siekte gehad het. “In ‘n mate is dit gegrond in die gedagte dat die mens immuniteit opgebou het teen die virus.”
Hy voeg by dat die teenoorgestelde ook waar is. “Aan die ander kant kry jy mense wie se vrees vermenigvuldig word. Hul immuunstelsel is aangetas en hulle wonder: ‘Wat sal gebeur as ek weer siek word?’ Sulke mense dra nou meer getrou die masker en vermy mense tot die maksimum.”
Die berader sê hierdie virus affekteer mense ook op ‘n psigiese vlak, nie slegs op ‘n fisiese vlak nie. In baie gevalle word die Covid-lyer depressief omdat hy/sy vir twee weke lank vasgekluister moes wees in die huis. “Die depressie stop nie die dag wanneer jy weer kan werk nie, want die psigiese effek is ‘n langdurende proses. Dit vat tyd om gesond te word. Wanneer jy nie onmiddellik kan terugkeer na normaal nie, en ook nie dadelik weer so aktief kan wees nie, kan dit jou ook depressief maak.
‘n Sielkundige van Kathu, Therina van Schalkwyk, het meer as 20 jaar ondervinding en sê angstigheid is ‘n baie groot faktor in ons SA-samelewing. “Dit gaan gewoonlik gepaard met ekonomiese druk, werks- en huislike omstandighede. Gesondheid, familie en natuurlik veiligheid speel ook ‘n rol. ”Angs word ook dikwels met depressie en trauma geassosieer. ”Wanneer die persoon beleef dat sy emosies en denkpatrone verander en die persoon voel ‘vreemd’ vir homself, raak hy of sy baie maklik ook angstig.”
Die invloed van Covid-19 op die samelewing is wyd en het ‘n impak op elkeen van die bogenoemde. Dit veroorsaak gereeld depressie, sy noem dit die bewuswording van eie sterflikheid. “Mense sit dikwels in terapie en besef nie dat hulle ‘n geweldige verlies-belewenis as gevolg van Covid-19 het nie. ”Verlies sny oor die hele spektrum, of dit nou die verlies aan sosiale kontak is of die onvemoë om behoorlik afskeid van geliefdes te kan neem met afsterwe.
“My ervaring is dat angsversteuring een van die grootste redes vir sielkundige behandeling geraak het in die afgelope twee jaar. Die voordurende onsekerheid wat mense beleef, veroorsaak die chemiese reaksie in die brein wat uiteindelik die angs veroorsaak.”
Sy sê dat min van haar kliënte ‘n primêre angs vir Covid-19 self uitgespreek het. “Daar was diesulkes ook, maar die angs wat ek in my spreekkamer beleef by mense, is meer ‘n sekondêre reaksie op grond van die langtermyn impak van die virus.”



