Solidariteit veroordeel nuwe minimum loon

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het vandag die nuwe minimum loon van R23,19 per uur, soos aangekondig deur die minister van arbeid en indiensneming, Thulas Nxesi, ten sterkte veroordeel. Volgens Solidariteit sou minister Nxesi ʼn veel positiewer uitwerking op die arbeidsmark en die ekonomie gehad het indien hy bloot net geheel en al van die minimum loon ontslae geraak het.

“Dit is ondenkbaar dat die land met die hoogste werkloosheid op die planeet aanhou om mense se kanse op indiensneming te vertrap. Terwyl die ekonomie steeds sukkel om te herstel ná die vernietigende impak van Covid-19 en die instelling van sommige van die strengste inperkingsmaatreëls ter wêreld, is dit absurd om ons reeds onsinnige minimum loon met meer as die inflasiekoers te verhoog,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

“Die arbeidsmark is soos ʼn leer wat ʼn mens deur jou loopbaan klim. Ons wil graag hê dat almal bo-aan die leer moet uitkom. Die minimum loon skuif egter niemand na ʼn hoër trap op die leer nie. Dit verhoed net dat diegene wat op die vloer staan, die kans kry om die eerste paar trappe te mag gebruik,” verduidelik Du Buisson. “ʼn Verdere kommerwekkende gevolg van ʼn hoër minimum loon kan ook ʼn toename in vreemdelinghaat en onwettige arbeidspraktyke wees. Die minister maak dit al hoe duurder vir werkgewers om Suid-Afrikaners wettiglik in diens te neem, wat outomaties ʼn aansporing daarstel vir sommige werkgewers om eerder van onwettige immigrante se dienste gebruik te maak.”

Solidariteit voer aan dat die regering self die teenproduktiwiteit en skadelikheid van die minimum loon ten toon stel, deur hulself van die bepalings te vrywaar.

“Die staat besef self dat die Wet op die Nasionale Minimum Loon op die ashoop hoort in die lig daarvan dat dit nie vir sy eie projekte geld nie. Werkers wat aan die Uitgebreide Openbarewerkeprogram deelneem, sal slegs R12,75 per uur ontvang. Hoekom geld afsonderlike reëls vir die staat aan die een kant en vir gewone mense en privaat ondernemings aan die ander kant? Dit is juis omdat die regering tog besef dat enige werk beter is as geen werk nie – ʼn werklikheid waarmee sowat ʼn derde van werksoekers tans gekonfronteer word – en dat die beste roete na goeie werk is om eers net enige werk te hê,” verduidelik Du Buisson.

“Solidariteit was nog altyd van mening dat die beste manier om beter lone te verseker is om beter vaardighede aan te leer en ervaring op te doen. Regulasies soos hierdie sal verhoed dat mense ervaring opdoen omdat daar nou nog minder werksgeleenthede vir nuwe toetreders tot die arbeidsmark sal wees,” sluit Du Buisson af.

*PERSVERKLARING

Lees ook: WTA is steeds ‘bekommerd’ oor Peng Shuai ná nuwe ontkenning van seksuele aanranding