Thembisile Ngedane, skoolhoof van die Phomolong Secondary School in Thembisa, is Vrydag, 21 Januarie, op die skoolterrein van dié skool doodgeskiet.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die skool op 25 Januarie besoek en nou ‘n beroep op leerlinge gedoen om voort te gaan met leer.
Motshekga het die leerlinge by die skool aangemoedig om op hulle skoolwerk te fokus, terwyl die polisie na die moordenaars soek.
“Ek wil vir die onderwysers hier sê hul pyn is ons pyn. En ek wil vir die leerlinge sê dat ons lief is en vir julle omgee en julle is alles vir ons. Julle is die toekoms van hierdie land,” het Motshekga gesê.
Die minister het ook ‘n beroep op die land gedoen om op te hou spekuleer oor die motief agter Ngendane se moord.
Sy het die skool saam met Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, besoek.
Motshekga hoop om meer besonderhede oor die skietery te kry. Motshekga sal later haar respek aan Ngendane se bedroefde familie betoon.



