“Hy was geliefd onder die mense en ‘n steunpilaar vir baie.”
So sal Japie Venter (36) onthou word deur die inwoners van Kuruman nadat hy op 19 Julie 2021 oorlede is aan Covid-19.


Oudergewoonte het Japie en sy vrou, Karin Venter (45) hul jaarlikse jag saam met vriende gehad toe Japie ewe skielik die Saterdagaand begin sleg voel. Nadat hy heelnag siek was, het hy Sondagoggend vroeg vir Karin wakker gemaak en gesê hy wil dadelik huis toe omdat hy nie lekker voel nie.
Karin vertel sy het hom probeer dokter, maar hy het net al hoe slegter begin voel. In daardie stadium het nie een van hulle vermoed dat dit moontlik Covid-19 is nie. Japie se toestand het al meer versleg en na ‘n gesmeek het hy ingestem om die Dinsdag dokter toe te gaan. By ongevalle het hulle die nodige toetse gedoen en Japie se toets het positief teruggekom en hy is dadelik in die hospitaal opgeneem.
Japie het twee dae later vir Karin gebel en gesê sy moet hom kom haal. Met haar aankoms by die hospitaal het Japie steeds vir haar baie siek gelyk, maar hy het geweier om langer in die hospitaal te bly. Volgens Karin het dit Japie ontstel om te sien hoe Avbob mense kom haal en hoe mense in die aande snak na hul asems.

Karin beskryf die Donderdagnag wat Japie weer terug was by die huis as ‘n vreesaanjaende nag wat sy nooit weer wil oorhê nie. Japie se vriende Boela, JP en Francois het suurstof-bottels aangery omdat Japie gesukkel het om asem te kry. Japie, wat besef het hy kort mediese hulp, het self ingestem om terug te gaan ongevalle toe.
Japie moes dringend by ‘n hospitaal wat beter toegerus is uitkom, en is toe by die Busamed-hospitaal in Johannesburg opgeneem. Japie is per vliegtuig na die hospitaal geneem en was reeds onder sedasie. “Ek het nie vir een oomblik gedink dit sou my laaste keer saam met hom wees nie,” vertel ‘n hartseer Karin.
Japie was ‘n maand in die hospitaal en mag geen besoekers gekry het nie. Werner Swartz het Karin op hoogte gehou oor Japie se toestand omdat die personeel van die hospitaal nooit terugvoer gegee het indien mense nie gevra het nie.


“Die Vrydag voor sy dood het ‘n suster gebel en gesê Japie wil met ons praat,” vertel Karin
“Ek en sy ma het hom ‘gevideo call’. Japie kon in daardie stadium nie meer praat nie, maar sy oë was nog vol lewe.”
Karin en JC (3), haar en Japie se seun, was die middag by die koöperasie toe Karin ‘n oproep van die hospitaal kry. Japie wou met JC praat.
Toe JC het die volgende dag weer vir Japie ‘video call’ het Japie sy hande beweeg. “Ons was so dankbaar en bly oor sy beterskap. Ons kon nie wag om hom te gaan haal nie.”
Maat min het Karin geweet dat Maandagoggend se oproep van die hospitaal haar hele lewe sou verander.
“Japie het twee hartaanvalle gehad,” was die woorde van die persoon aan die anderkant van die foon. Werner het Karin gebel en gesê Japie het intussen nog ‘n hartaanval gehad en dit ongelukkig nie oorleef nie.
Karin se oe glinster as sy oor Japie praat en sy onthou hul troudag nog soos gister. “Ons is op 14 Februarie 2018 getroud. Sommer by die pastorie. Dit was ‘n intieme en klein onthaal. Japie wou dit nog behoorlik vier, maar die tyd het ons ingehaal.”

Sy onthou nog goed die dag toe sy uitgevind het sy is swanger met JC en hoewel hulle dit eers wou stilhou, kon Japie nie wag om vir almal te vertel “ek word pa” nie.
“Sy grootste droom het waar geword die dag toe JC gebore is. Hy was ‘n ongelooflike pa en sou berge versit vir sy seun. Japie het JC elke dag, van babatyd af, in die bakkie gelaai om saam met hom te gaan boer. Daar was ook altyd ‘n bed in die bakkie vir as hy moes slaap. Japie was soos ‘n leeu oor sy welpies met JC. Hy mag nooit alleen saam met my dorp toe gegaan het nie. JC was sy grootste en kosbaarste besitting op aarde,” vertel Karin.
“JC kry baie swaar en verlang bitter baie na sy pa. Ek moes nou die dag aan hom verduidelik het dat Pappa nie weer gaan terugkom nie, omdat hy aanhoudend vra wanneer kom Pappa weer. Dit het my hart gebreek toe hy my vra kan ons dan nie na Pappa toe gaan nie.”
JC, wat ‘n regte “copy en paste”, soos Karin sê, van Japie is, praat gereeld met sy pappa as hy speel. “Hy mis die opwindende tye wat hulle saam gehad het. Japie het voluit gelewe.”
Karin vertel sy mis haar man ongelooflik baie en dat sy dood vrees en angs by haar gebring het.
“Ek kry my dae wat ek ‘okay’ voel en dan kry ek dae wat ek aaneen net huil. Dit voel steeds soms so onwerklik – asof hy enige tyd by die deur gaan instap en ‘n grappie maak, soos hy altyd het. Die aande is die ergste. Ek kry nie geslaap nie. Ek gaan gereeld deur foto’s en dan loop my trane. Met japie was dit werklik ‘never a dull moment.’ Al pak ons net die braaier en gaan braai langs die witpad of drink ‘sundowners’ op die trekker se wa. Hy het die lewe ingekleur en ten volle geniet.”


Japie sal altyd onthou word as iemand wat baie lief was vir mense, kuier en net gesellig wees. “Hy het baie vriende gehad wat baie lief was vir hom. Hy het ‘n kuier gemaak, was altyd spontaan en vol grappies. En ja, hy het maar soms simpel goed gedoen, maar dis hoe ons hom geken het,” glimlag Karin. “Ons het ‘n wonderlike vriendekring en sal op die 19de Julie sy lewe vier.”
Karin sal haar en Japie se tye altyd koester en wens hy kon nog een keer in die huis stap en vra: “Wat eet ons?”
“Hy was ‘n wonderlike man, pa en seun. Hy het die laaste paar jare so gegroei in die boerdery en sy grootste doel was om vir my en JC ‘n wonderlike lewe te kon gee. Hy was baie vrygewig en ek moes soms briek. Hy wou almal altyd help. Hoewel sy pa se dood in 2020 vir hom moeilik was om te verwerk, het hy sterk gestaan vir sy ma. My skoonma is so ‘n sterk vrou. Sy het haar man en nou al twee kinders aan die dood afgestaan.”
Wanneer Karin vir Japie mis, gaan sit sy tussen die diere in die veld omdat dit is waar sy die naaste aan hom voel. “Of ek sit die musiek kliphard aan. Japie was so lief vir musiek.”





