Die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid het kennis geneem van die verspreiding van ‘n video van ‘n groep skoolkinders wat siek is nadat hulle glo stokkielekkers geëet het.
Die departement het bevestig 46 kinders van ‘n plaaslike laerskool in die Ilembe-distrik het van buikpyn gekla en is by ‘n plaaslike hospitaal behandel. Niemand is dood nie.
Muzi Mahlambi, woordvoerder vir die departement van onderwys in die provinsie, het gesê die kinders het begin sleg voel nadat hulle stokkielekkers geëet het. Die stokkielekkers is glo by ‘n vrou buite die skoolhekke gekoop.
Die oorsaak van die skielike siekte kan nie bevestig word nie. Die kinders sterk nou by hulle eie huise aan. Die oorsaak word ondersoek.



