Shannon Wong Fatt (18), ’n matrikulant aan Girls High School, is onlangs as een van die top-drie leerlinge in die Noord-Kaap aangewys.
As boorling van Kimberley het sy agt onderskeiding in Engels, Afrikaans, lewensoriëntering, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde en musiek verwerf.
Shannon vertel sy sluit hierdie jaar by die Universiteit Stellenbosch aan en gaan medies studeer.
“Ek wil ’n dokter word, want toe ek grootgeword het, was baie mense in my gesin siek of in pyn en ek kon niks doen om hulle te help nie. Ek wil dus in die toekoms ander mense kan help.”
In haar vrye tyd speel sy graag vier musiekinstrumente, skaak en spandeer tyd saam met haar familie.
“My grootste rolmodel is my fisiese wetenskappe-onderwyser by Kimberley Girls High School. Haar naam is mev. Hwenhira. Sy is my rolmodel, want al was onderrig nie haar eerste keuse nie, het sy altyd soveel moeite gedoen. Sy was altyd gereed om ons dag op te helder en sy was net iemand op wie ek altyd kon staatmaak.”
Shannon sê sy wil oor vyf jaar bekostigbare gesondheidsorg voorsien aan mense wat dit nodig het.
“Ek sien baie daarna uit om bekostigbare gesondheidsorg te verskaf aan mense wat dit nodig het nadat ek my graad verwerf het.”



