Twee tienerseuns dood oor R10 – ‘ons moet bid, demone vernietig ons kinders’

Simphiwe Sikhakhane (links) en Sabelo Khoza (regs) is tragies en geweldadig dood. Foto: Opera News

“Wat gebeur met ons kinders? Ons moet hard bid, om die demone wat hulle verlei, te vernietig.”

Só sê Kelebogile Monchwe Mogapi, nadat twee tienerseuns dood is, glo oor R10.

‘n Gelddispuut het glo daartoe gelei dat Sabelo Khoza, ‘n gr. 9-leerling van Inanda, KwaZulu-Natal, deur Simphiwe Sikhakhane, ‘n gr. 11-leerling, doodgesteek is. Hulle was glo betrokke in ‘n argument oor R10.

Sikhakhane is daarna deur lede van die gemeenskap in Bester, Inanda, met ‘n kapmes doodgekap.

Maureen Dlutu, sê op die Facebook-groep, Keep the Energy, dat daar vir die volwassenes ook gebid moet word, want om ‘n kind so wreed te vermoor, is “demonies”.

Daar word beweer Sikhakhane het sy R10 by Khoza geëis. Hy het toe ‘n mes uitgehaal, dit oor Khoza se keel getrek en hom toe in sy hart gesteek. Khoza is na ‘n kliniek in Newtown geneem, maar is oorlede.

Khoza was glo op pad om vir ‘n nuwe skool in Phoenix te registreer.

Kwazi Mthethwa, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement, het die geweld veroordeel en gesê dit is “verskriklik” en “ongelukkig”. Hy het sy medelye met die bedroefde families uitgespreek en gesê die ondersoek na die voorvalle word deur die polisie hanteer.

Luitenant-kolonel Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het gesê twee moordsake word deur die Ntuzuma-polisiestasie ondersoek. Gwala het gesê twee studente is buite die skoolhekke gesteek, maar die motief vir die moord is onbekend.

Bron: Opera News

Leave a Reply

Your email address will not be published.