Riaan Jonker (38), ‘n jarelange inwoner van Kuruman, is op 11 Januarie 2022 voor Kuruman Photolab in Boschstraat beroof.
Jonker vertel hy het ongeveer 16:10 sy vrou by die werk opgetel en uit die motor geklim terwyl sy besig was om te sluit.
“Ek het met my foon in my hand uitgeklim omdat ek in daardie stadium in ‘n zoom-vergadering was toe ‘n man my foon uit my hand uit gryp.”
Jonker het die man agternagesit met die hoop om sy foon terug te kry, maar is deur ‘n medepligtige gepootjie.
Te danke aan Ettienne Louw (45) van die sekuriteitsmaatskappy NKS het Jonker nog dieselfde dag sy foon teruggekry.
Nadat hy NKS gebel het, was twee wagte binne ‘n paar minute daar en het dadelik die taxistaanplek begin deursoek.
Volgens Louw het hulle die foon versteek in een van die badkamers se dakke by die taxistaanplek gekry. “Ons het al deur die jare geleer dat gesteelde items gewoonlik daar weggesteek word.”
“Ek wil graag vir Louw van NKS en sy mense bedank vir hul vinnige optrede,” sê Jonker.
Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.



