Vyf minute in Natasha se kombuis

Deel hierdie storie / Share this story

Koekbak is deesdae ’n kuns omdat daar byna niks is waarvan daar nie ’n koek gemaak kan word nie. En baksters gebruik nogal hul kreatiwiteit wanneer dit by dié tydverdryf kom. 

Natasha Eales (27) het nog altyd ‘n liefde vir kosmaak en koekbak gehad en sy gee glad nie om om ure agter die koekpanne of kospotte deur te bring nie.

Sedert sy haar eerste koek vir haar susterskind se verjaarsdag gebak het, het vriende en familielede haar begin vra om vir hulle ook te bak en haar stokperdjie het baie vinniger uitgebrei as wat sy beplan het.

Natasha, wat op Kuruman grootgeword het, het vroeg in 2020 koeke en kolwyntjies in haar vrye tyd vir spesiale geleenthede begin bak. 

Met geen professionele opleiding nie het sy haarself met YouTube-video’s en Google touwys gemaak en vandag kan sy enige koek bak en met tradisionele botterversiersel asook met fondant versier. 

Die koekbakkery is nie altyd net maanskyn en fondantrose nie en hoewel sy nog “under construction” is, sê sy nooit nee vir ‘n lekker uitdaging nie.

“Dit is vir my ongelooflik lekker om nuwe dinge te leer van bak asook ‘n tegniek te bemeester. Ek dink die kreatiwiteit wat mens kan uitbeeld op ‘n koek of kolwyntjie het my van die begin af geïnteresseer. Elke bestelling verg iets wat ek nog nie voorheen gedoen het nie!

“Dis altyd lekker om te hoor my kliënte is tevrede en gelukkig met hulle bestelling.”

Bak is vir haar vervullend, maar die lekkerste van als is die opgewondenheid van ‘n kind.

“Elke kind verdien ‘n spesiale koek op sy of haar verjaarsdag en dit gee my ‘n sence of euphoria om te sien hoe helder ‘n kind se gesiggie op. Dit maak beslis al die lang aande en min slaap die moeite werd.”