Stokperdjie in die feestyd

Deel hierdie storie / Share this story

Baie mense het tydens die feestyd meer vrye tyd gehad en het so ’n nuwe stokperdjie begin beoefen of selfs ’n ou stokperdjie afgestof.

Elfreda Baartman is een van die mense wat in die feestyd ’n nuwe stokperdjie begin het toe sy per ongeluk daarop afgekom het.

Sy is al 16 jaar met haar man, Gavin Baartman, getroud en die paartjie het twee kinders saam. Elfreda is oorspronklik van Kaapstad, maar woon al vir 18 jaar in Kimberley.

Stokperdjie

“Ek werk vir Outisme SA. Ek is die streeksbestuurder, verantwoordelik vir opleiding en bewusmaking. My dogtertjie is outisties.”

Sy vertel haar stokperdjie het heel toevallig begin.

“Ek het op die internet gekyk vir positiewe quotes om in die kinders se kamers te hang. Toe kom ek af op die ‘Mandala colouring pages’. Ek het sommer verlief geraak. Ek het toe ’n hele paar uitgedruk en begin inkleur, een bladsy ’n dag. Dit was so kalmerend. Ek het eers die kinders se inkleurpotlode gebruik, toe koop ek penne en toe koop ek glitter gel penne.”

Elfreda vertel sy geniet die inkleur vreeslik.

“Ek hou daarvan om die verskillende kleure te kombineer. Ek sien altyd uit na die eindproduk. Sommige mense wil dit koop; ek ‘post’ altyd op sosiale media, maar dit is regtig net ‘n stokperdjie.”

Sy sê ook die stokperdjie is nie duur nie.

“Dit is nie rêrig duur nie, maar die gel penne raak so vinnig klaar, so dit kan nogal ’n uitgawe raak. Ek probeer om klaar te kom met wat ek het, tot ek weer geld het om nuwe penne te koop.”

Sy vertel sy gaan steeds genoeg tyd hê om haar stokperdjie te beoefen, al is die feestyd verby.

“Ek gaan definitief tyd hê om dit te doen. Ek werk van die huis af en beheer my eie ure.”

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels hier.