Vir meer as drie jaar maak premier Zamani Saul beloftes om nie net die stad nie, maak ook die provinsie na hoër hoogtes te neem.
Slegs 10 maande gelede het Saul sy visie van ’n moderne, suksesvolle en groeiende provinsie op ’n ontbytnetwerkgesprek uiteengesit.
Drie jaar gelede het Saul by die Sol Plaatje-munisipaliteit ingegryp deur ’n provinsiale geïntegreerde beplanningskomitee, wat op die ontwikkeling van die munisipaliteit fokus, op die been te bring.
Die vraag op almal se lippe is egter, hoekom is daar geen dienslewering nie en hoekom is ons paaie steeds vol gate?
Gate in die paaie, lekkende pype en gereelde watertekorte is maar net van die probleme wat inwoners van die stad in die gesig staar.
Saul het vroeër in 2021 gesê die regering is oop en eerlik met die manier waarop hulle dinge doen en hy het die privaat sektor aangemoedig om by die opbou van die stad betrokke te raak.
Met elke dag wat verbygaan, word die verval van die stad net erger en is die ry-oppervlak van sekere paaie nie meer rybaar nie. Met die aanstelling van die nuwe burgemeester het inwoners ook nog geen vrugte gepluk nie.
Ockie Fourie, DA-raadslid, sê hy dink nie dr. Saul het enigsins die omvang van die probleem besef nie.
“In Engels kan ‘n mens dit beskryf as ‘n ‘pipe dream’ of ‘wishful thinking’. Die meeste teerpaaie wat vroeër in Kimberley aangebring is, was nie ontwerp vir die geweldige hoë volume verkeer asook die hoë tonnemaat wat op baie paaie beweeg nie. Voortdurende waterlekke en gebarste pype vererger die probleem op ’n daaglikse basis. Alhoewel daar ‘n poging aangewend is op verskeie plekke om sommige slaggate te herstel, was dit ‘n totale onrealistiese en ondeurdagte stelling om te verklaar dat daar teen die einde van 2021 nie meer ’n enkele slaggat in Kimberley sou wees nie. Dit sal interessant wees om ’n behoorlike verslag te bekom van slaggate wat herstel was en wat die bedrag beloop wat daarop spandeer was.”
Kobus van den Berg, VF Plus-raadslid, sê die reën word as verskoning verbruik waarom die beloftes nie gehou kon word nie.
“Die verkiesing is nou verby, met ander woorde, die druk is ook nou nie meer so groot om dinge te laat gebeur nie. Ek voel dit is baie belangrik dat ons as gemeenskap soveel as moontlik druk moet uitoefen om wel nog aandag aan die paaie en gate te gee. Anders is dit een stap vorentoe en twee stappe terug.”
Kimberley Online Co. het navraag by die premier se kantoor oor die beloftes en die verval van die stad gedoen.
Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels oor die provinsie hier.



