Gesin se nagmerrie toe man voor motor inspring

Deel hierdie storie / Share this story

’n Gesin se feestyd het in ’n nagmerrie verander toe ’n man op Kersdag voor hulle motor ingespring het. Hier vertel Veronica de Jonge (31), ’n inwoner van Kimberley, die storie van die dag wat hulle lewe verander het.

“Ons het die feestyd by my ouers in Gauteng gaan kuier en op Kersdag het ons saam met my ma-hulle ’n rukkie by my ouma se huis gaan kuier en toe daarna weer teruggery na my pa en suster op die plot in Riversdal. Op pad soontoe neem ek ’n foto van die stormwolke om vir my ma te stuur en sekondes later sien ons ’n man in die middel van die pad staan. Hy het tot in die helfte geloop en stil gaan staan. Ons het verwag hy wag sodat ons kan verbykom, want hy het still gestaan. My verloofde het bietjie stadiger gery en dié wat ons naderkom, kyk die man ons in ons oë en spring voor die kar in.”

Nagmerrie toe man spring

Veronica en haar verloofde se tweejarige dogtertjie was saam met hulle in die motor.

“Toe ek sien hoe hy spring, het ek eerste vir my dogtertjie se gesiggie gekeer met die glasstukke wat spat. Ek het paniekbevange geraak en vir my verloofde gesê hy moet ry na die plot toe en my pa-hulle kry en terugkom, want ek was bang hulle wil ons beroof. Daar het ’n kar agter ons gestop en ’n man het uitgeklim en gesê hy het presies gesien wat gebeur het en hy sal ’n getuie wees. Hy het gesien hoe die man aspris voor ons inspring. My dogtertjie was in ’n toestand en wou nie ophou huil nie.”

Veronica vertel die ambulans en owerhede het op die toneel opgedaag, maar die man is in die pad oorlede.

“Dit is die ergste gevoel om te sien hoe iemand vir jou in jou gesig kyk en dan voor jou kar inspring! Dit spook by my. Dit was ’n baie traumatiese ervaring vir ons al drie. Elke keer as mens iemand sien wat oor die pad wil loop, skrik mens en my dogtertjie onthou dit alles.”

Veronica sê ook dit is vir haar verloofde baie moeilik, omdat hy niks kon doen om dit te keer nie.

“Dit is nie iets wat net sommer sal weggaan nie. Dit sal ons vir ewig bybly.”

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels hier.