Kaapstad steel ‘n Rus se hart

Deel hierdie storie / Share this story

Nog ‘n deelnemer van die nuwe gewilde televisiereeks Ram vir ‘n Rus, Tatiana Belianicheva (24), het ook haar hart op die mooie Kaapstad verloor.  

Tatiana is oorspronklik van Vladivostok, in die oostelike deel van Rusland, en het vir die eerste keer in Suid-Afrika kom kuier as een van die agt Russiese dames wat gekies is aan dié TV-reeks deel te neem..

“Ek wou Suid-Afrika sien en ook dalk my toekomstige liefde ontmoet. Ek is mal oor uitdagings en avontuur. Ek dink ook dit is ‘n vreemde ervaring vir enigeen wat sou deel wees van so ‘n tipe reeks.” Sy vertel dít was haar motivering om vir die reeks in te skryf.

Die uitdagings wat Suid-Afrikaners in verband met elektrisiteit, duur internet en diskriminasie ervaar, sê Tatiana is vir haar die grootste probleme. Sy vertel toe sy nog in Rusland was, het sy dit nooit besef nie.

Ten spyte van hierdie uitdagings is Kaapstad steeds vir haar een van die beste ervarings wat sy nie sommer sal vergeet nie. “Ek het vir vir die eerste keer probeer branderplankry (surf) en die see se water was ongelooflik koud!”

Om nuwe tale te leer, is een van Tatiana se passies. Sy het in China haar MBA (Meestersgraad in Besigheidsadministrasie) voltooi en daarna in Japan gaan bly. “Ek sien myself as ‘n Rus met ‘n ‘asian soul’!” 

Kuns is haar eerste liefde en sy sal nooit op ‘n avontuur gaan sonder om hope fotos en videos te neem nie. Sy skilder wanneer die insperasie haar beetkry en haar voete jik as sy die salsa hoor speel. “My emosies ry gereeld wipplank. Ek lag en geniet myself saam met hartsmense en huil as ek mense op straat sien sonder huise of kos. My hartsbegeerte is dat almal ‘n huis van hul eie het en gelukkig is!”  

Sy glo in liefde met die eerste oogopslag, maar het ook haar eie opinie oor wat die ware betekenis van liefde is. “Om iemand lief te hê, is om daardie persoon te ken. Te veel mense verwar liefde met lus, maar ware liefde vereis kennis.” 

Tatiana is ook beïndruk met al Suid-Afrika se vars groente, vrugte en vleis. Haar gunsteling tradisionele Suid-Afrikaanse kos is, sonder twyfel, biltong.  

Sy is in Kaapstad op soek na projekte waarby sy betrokke kan raak. Sy werk tans aanlyn, en soos vele ander Suid-Afrikaners is dit vir haar heerlik, omdat dit reis en avontuur moontlik maak. 

Die grootste verskil tussen Russiese en Suid-Afrikaanse mans is vir Tatiana dat Suid-Afrikaanse mans konserwatief is en dat hulle hul vrouens as gelykes sien. In Rusland is dit die teenoorgestelde wat verhoudings betref.  

“Ek het niks geweet van Suid-Afrika voordat ek hierheen gekom het nie. Nou sien ek die sonnige weer, geen orkane of tsunamis nie, die mooi natuurlike erfenisterreine en al die vriendelike mense. Maar ek mis my familie en vriende en die Asiatiese kos.” 

In die reeks was daar ‘n stadium waar Tatiana saam met Heinrich Olwage, een van die manlike Suid-Afrikaanse deelnemers, in sy huis in Johannesburg gebly het en al die kykers kon sien dat sy nie gemaklik was nie. Sy verduidelik aan ons dat Kaapstad vir haar vryer voel. Pretoria is vir haar ‘n familiestad, Johannesburg ‘n besigheidsstad en in Kaapstad gaan hou jy vakansie. 
 

“Ek dink almal moet ten minste een keer in hul lewe Kaapstad en al die mooi daar ervaar.” 

Volg gerus vir Tatiana op VIA TV en kyk of sy haar ware liefde en tuiste vind.

Lees die artikel hier in Engels.