Nightbirde: ‘Dit was ‘n helse jaar’

Deel hierdie storie / Share this story

Jane Marczewski (gebore 1990) word professioneel geken as Nightbirde, maar is in die werklikheid net ‘n sagte mens wat deur omstandighede buite haar beheer hard gemaak is.

Selfs al het sy slegte gesondheid wat haar daaglikse bestaan oorheers, is hierdie nie ‘n katjie wat net gaan lê dat jy haar maag kan vryf nie. Nee, hierdie katjie baklei elke dag vir dit wat sy in glo en vir haar toekoms.

Jane beskik oor ‘n noemenswaardige talent en ‘n baie mooi stem. Haar sang lok luisteraars, terwyl haar glimlag en positiewe gedagtes haar nog aantrekliker maak. Sy is vol talent en gaan in die toekoms ‘n gewilde ster wees.

Jane se lewe was nie maklik nie. Syself beskryf haar lewe as ietwat “morsig”. Sy was van kleins af passievol en talentvol en het liedjies geskryf en dagboek gehou van almal en alles om haar. Haar lewe was perfek tot in September 2017. Die dag wat haar lewe onherroeplik verander het.

Jane is met fase 3-borskanker gediagnoseer. Sy moes vir byna 10 maande deur chemoterapie gaan. Te danke aan die intensiewe behandeling, het sy die stryd teen kanker gewen, maar weer het dokters kanker by haar opgetel. In haar 2020 blogpost het sy gesê ontelbare gewasse is regdeur haar longe, lewer, limf, ribbes en ruggraat gevind. Sy het net ses maande gehad om te lewe, aangesien die oorlewingskanse net 2% was.

Na die skok van 2020 het sy ‘n geestelike ineenstorting gehad, waartydens sy vir ‘n paar maande skaars gepraat, geëet of beweeg het.

Daar is ontdek dat die gebeure ‘n fisiese trauma veroorsaak het en haar brein se vermoë om stres en emosies te verwerk, het teen 8% gefunksioneer.

Na Brain Wave Therapy het sy vinnig herstel. Sy het toe vir ‘n oudisie by America’s Got Talent gegaan en die beoordelaars almal emosioneel gemaak terwyl sy haar oorspronklike liedjie It’s Ok opgevoer het. Sy het hier die “golden buzzer” ontvang, maar moes weens gesondheidsprobleme noodgedwonge uit die kompetisie onttrek.

Elke jaar is vir Jane ‘n wonderwerk, aangesien sy lankal volgens dokters moes sterf.

Jane veg steeds teen die kanker, maar het aan al haar YouTube-aanhangers gesê dat sy steeds aan nuwe musiek werk, al voel sy nie 100% nie.

Gaan luister gerus Nightbirde se Nuwejaars-liedjie – New Year’s eve- anywhere and everywhere. ‘n Inspirasie deur en deur.