Vyf mense is Vrydagmiddag dood en verskeie ander beseer toe vyf voertuie op die N1 naby Mookgophong, sowat 120km buite Polokwane, gebots het.
Toe ER24 op die toneel aangekom het, was die paramedici reeds besig met pasiënte. ER24 sê owerhede was toe reeds op die toneel en die pad is gesluit.
Vyf voertuie was by die botsing betrokke.

Paramedici het pasiënte op die toneel behandel en het gevind dat vier reeds aan hulle beserings beswyk het.
Vier ander pasiënte was in ‘n kritieke toestand en het dadelik behandeling ontvang.
Een pasiënt het tydens dié behandeling gesterf.
Besonderhede rondom die voorval is nog nie bekend nie, maar die saak word ondersoek.



