’n Man is in hegtenis geneem nadat hy sy dood probeer namaak het deur glo ’n bouer te vermoor en voor te gee dit is sy lyk.
Die Indiese polisie het Maandag gesê die man is in 2018 skuldig bevind aan die moord op sy dogter, maar is tydens die Covid-19-pandemie vrygelaat toe owerhede probeer het om infeksies te verminder deur gevangenes uit oorvol tronke vry te laat.
Die polisie het verlede maand ’n lyk in Ghaziabad, aan die buitewyke van die hoofstad Nieu-Delhi, gevind. Die liggaam het die man se klere aangehad en sy ID-dokument was by hom. Die gesig van die liggaam was onherkenbaar verbrand.
Die ma se vrou is opgespoor, waarna sy die liggaam as dié van haar vermoorde man geïdentifiseer het. Die polisie was egter nie oortuig nie en het die man Vrydag net buite sy huis betrap.
By ondervraging het hy vinnig met die sak patats vorendag gekom en beide hy en sy vrou is in hegtenis geneem.



