VSA. – Scott Peterson, wat skuldig bevind is aan die moord op sy swanger vrou, Laci Peterson, en hul ongebore baba, is Woensdag lewenslange tronkstraf sonder die moontlikheid van parool opgelê.
Laci Peterson (27) was agt maande swanger met hul seun, Conner, toe sy in Desember 2002 vermoor is, vyf jaar nadat sy en Peterson getroud is.
Sy is op 24 Desember 2002 as vermis aangegee.
Volgens die hof het Peterson sy vrou se lyk op Oukersaand in die Berkeley Marina vanaf sy vissersboot gegooi en die misdaad probeer toesmeer deur dit te laat lyk asof sy vermis word.
Haar liggaam het later uitgespoel.
Peterson (49) is oorspronklik in 2004 skuldig bevind aan dié moorde. Hy het die doodvonnis gekry.
In Augustus 2020 het die hooggeregshof in Kalifornië Peterson se doodvonnis omgekeer nadat bevind is potensiële jurielede is verkeerdelik ontslaan, deels omdat hulle algemene besware teen die doodstraf op ‘n vraelys uitgespreek het.
’n Regter het Peterson ook tot 15 jaar lewenslange tronkstraf gevonnis vir die dood van die ongebore baba, Conner. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word, het die regter gesê.
Laci Peterson se familielede het Peterson huilend in die hof toegespreek.
“Jy wou nie die verantwoordelikheid vat om ‘n pa te wees nie,” het Laci se ma, Sharon Rocha, gesê.
“Connor sou nou al 18 jaar oud gewees het. Tien maande gelede sou jy vry van kinderondersteuning gewees het en nie bekommerd te gewees het oor die verantwoordelikheid van ‘n kind nie.
“Ek het jou nog nie eenkeer hartseer gesien of dat jy enige berou toon nie. Ek weet jy gaan sê jy het geen berou nie omdat jy onskuldig is, maar jy het van die begin af geen emosie getoon nie,” het sy gesê.
“Ek voel steeds elke dag die hartseer na 19 jaar.”
Sy het Peterson ‘n “lafaard” genoem en hom aangesê om te erken dat hy sy vrou en ongebore kind vermoor het.
“Maak nie saak wat nou of in die toekoms gebeur nie, daar is twee dinge wat nooit sal verander nie: Laci en Conner sal altyd dood wees, en in my oë sal jy sal altyd die moordenaar wees,” het sy gesê.
Brent Rocha, Laci Peterson se broer, het gesê die moord van sy swanger suster en haar ongebore baba het die gesin “verwoes en getraumatiseer”.
Amy Rocha, haar suster, het in trane uitgebars toe dit haar beurt was om te praat.
“Jy het ons almal se harte gebreek deur Laci en Conner se lewe te neem. Wat my die seerste maak, is dat Conner nooit die geleentheid gekry het om ons familie te ontmoet nie. Daar was soveel spesiale geleenthede waarvoor Laci en Conner hier moes gewees het. Dit maak my siek om weer vandag hier voor jou te staan. Al is die doodstraf opgehef, sal jy steeds in hierdie lewe en daarna gestraf word,” het sy afgesluit.
Peterson beweer Laci is vermoor toe sy op ‘n inbraak afgekom het.
Volg FiND iT hier op Facebook.






