Baba met noodkeiser gebore om pa te ontmoet voor hy sterf

Deel hierdie storie / Share this story

Op 2 Desember het Haley en haar man, Jb, hul tweede seun met ‘n noodkeiser in die wêreld verwelkom. Hierdie seun het die wêreld op die dapperste en mees magiese manier betree, met ‘n baie groot wonderwerk in ‘n kwessie van ‘n kort tyd.

“Vandag kom ek na julle toe met ‘n bittersoet storie. ‘n Vreugdevolle storie, maar ook ‘n hartseer een,” skryf Haley Parke op haar Facebook-blad.

“My man is Sondag 28 November in die Hartford-hospitaal opgeneem weens komplikasies van sy kanker. Ons het Woensdag verneem dat sy ses maande prognose nou in ‘n kwessie van dae verander het. Met ons tweede seun se sperdatum drie weke weg, het ek en my man geweet om vir ‘n induksie te vra, was die regte ding om te doen.


“Sonder om te huiwer, het die span ICU-dokters met die hoof van die verloskundiges gekommunikeer. Die induksie is goedgekeur.

“Ek het my lieflike man totsiens gesoen en vir hom gesê om sterk te wees en vas te byt vir my en die baba – hy het gesê hy sal.”

Die induksieproses het Woensdagaand begin met die hoop op ‘n vinnige kraam en ‘n normale geboorte. Daardie planne het in ‘n oomblik verander toe ‘n span ICU-dokters my kamer Donderdagoggend om 08:00 binnegekom het met die nuus dat Jb vinniger agteruitgaan en ‘n paar uur oor het,” vertel Haley.

In daardie stadium moes Haley ‘n besluit neem – óf ‘n keisersnee óf Jb sou nooit die geleentheid kry om sy seun te ontmoet nie.

Sonder om twee keer te dink, het sy tot ‘n noodkeiser ingestem.

“In ‘n kwessie van letterlik minute was ek in die teater en binne 20 minute is ons seun gebore.”

Haley het haar seun ‘n vinnige soen gegee, waarna ‘n span dokters en verpleegsters met die pasgebore baba twee verdiepings opgehardloop het om hom op sy pa se bors neer te sit.

Die oomblik toe die baba op Jb se bors neergesit is, was dit asof sy toestand vir daardie paar minute verbeter het.

“Hy was 100% bewus van die baba op sy bors deur klein kopbewegings en kreungeluide te maak.

Haley se bed is na die geboorte reg langs haar man s’n ingestoot. Sy het haar hersteltyd gebruik om na hom te kyk.

Jb het sy laaste asem uitgeblaas met sy seun op sy bors en sy hand in Haley s’n.

Vir ‘n om baba om drie weke vroeër gebore te word, kan ‘n rits komplikasies meebring wat NICU-tyd en asemhalingsondersteuning kan verg.

“God het ons seun vir hierdie spesifieke oomblik voorberei, want hy het uitgekom met ‘n gewig van 7 pond 4 onse, by die 20 duim lank, met ten volle ontwikkelde longe wat die soetste huilgeluide gegee het.”

Van die begin van die proses tot die einde het dit vir Haley gevoel of daar honderde dokters en verpleegters regstaan om te help. Moeiteloos, en nie een met droë oë nie.

“Sommige van hulle het vir my gesê hulle sal nooit hierdie daad van onbaatsugtigheid vergeet nie. Sommige het my optrede dapper en heldhaftig genoem. Ek noem dit net liefde. Ek het uit liefde opgetree. Ek het my vertroue in God gestel dat dit deel van sy plan was, en ek het gedoen wat ek moes doen, uit liefde, om my man se laaste wens te vervul.”

Tot op die oomblik van induksie het baba Parker nog nie ‘n naam gehad nie.

“Ek het in my hart geweet dis net reg om my man te eer. So, dit is my plesier om die geboorte van ons dapper, wonderlike seun, John Beeson Parke (Jb), aan te kondig.

Welkom in die wêreld, baba Jb. Jou storie is werklik ‘n wonderwerk.”

Volg FiND iT hier op Facebook.