Die polisie het ’n vrou, wat ’n verdagte in ’n vragmotorkaping is, in ’n kas gevind nadat sy vir hulle probeer wegkruip het.
‘n Vragmotor is Dinsdag net buite Cleveland gekaap. Die polisie het inligting oor gesteelde eiendom opgevolg wat hulle na ’n afgeleë huis in Tjovitjo, Orange Farm, gelei het.
Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, sê daar is gevind agt verdagtes het die gesteelde eiendom in ’n Iveco-bussie gelaai. Hulle is daarna in hegtenis geneem.
Die vragmotorkaping het pas tevore in Cleveland plaasgevind. Die Sedibeng K9-eenheid saam met misdaadvoorkomingspanne het die huis verder deursoek en nog twee verdagtes is gevind waar hulle in ’n kas weggekruip het.
Twee ander motors is in die erf gevind, gelaai met nog gesteelde eiendom. Polisielede het die huis verder deursoek en nog gesteelde eiendom in die slaapkamers gevind.
Een van die verdagtes, ’n vrou, wat ook die eienaar van die huis is, is gevind waar sy in ’n kas wegkruip.
Die verdagtes sal van vragmotorkaping en die besit van gesteelde eiendom aangekla word. Daar sal vasgestel word of hulle met ander misdade, veral kapingsverwante misdade, verbind kan word.
Die verdagtes sal Maandag 6 Desember 2021 in die hof verskyn.



