Werner Kok: “Al my Springbok-truie is gesteel”

Deel hierdie storie / Share this story

Jare se herinneringe is daarmee heen nadat misdadigers so te sê al Werner Kok se rugbytruie van sy tyd by die Blitsbokke gesteel het. Hy het vir die nasionale sewesspan gespeel.

Kok het vroeër vandag op sy sosiale media gesê dat hy sedert die voorval met ‘n swaar hart rondloop.

Die truie is volgens Kok op 1 Desember uit ‘n stoorfasiliteit in Kaapstad gesteel.

“Tien jaar se harde werk in 10 minute gesteel.
Van my Olimpiese Spele-trui tot elke spesiale geleentheid waarby ek al betrokke was, is net weg. Hierdie items is my nalatenskap, iets wat ek eendag met my kinders en my gesin wou deel. Dit is vir my meer werd as wat enige een ooit sal weet.”

Kok vra dat mense asb. op die uitkyk moet wees vir enige truie wat aanlyn geadverteer word of op straat verkoop word.


“Die meerderheid van my truie het ‘n nommer 5 op en enige hulp sal opreg waardeer word,” skryf Kok.