Verkragters in Kimberley word gesoek

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ‘n Vrou is beroof en verkrag deur twee gewapende mans terwyl sy na ’n snoepie in Longstraat op pad was. Hulle het na bewering beurte gemaak om haar te verkrag. Die polisie hier het ’n soektog na die verkragters van stapel gestuur.

Verkragters

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die slagoffer het berig dat sy op 15 November 2021, omstreeks 20:26, op pad was na ’n snoepie in Longstraat toe sy deur twee onbekende gewapende mans aangerand is. “Die verdagtes het gedreig om haar dood te maak sou sy skree of enige geraas maak. Volgens die slagoffer het die verdagtes haar selfoon gesteel en haar na nabygeleë bosse gesleep terwyl hulle haar met ‘n vuurwapen gedreig het. Hier het hulle haar na bewering om die beurt verkrag en van die toneel gevlug.

LEES OOK: Man in lykshuis lewe nog

Beskrywings

“Op die dag van die voorval het een verdagte, ongeveer 1,7 meter lank, lig van gelaat, skraal gebou, tussen die ouderdom van 25 en 30, ‘n langmou rooi T-hemp, jeans en ‘n donkerblou hoed gedra. Hy was in besit van ‘n mes.”

Kapt. Tawana sê ook die tweede verdagte, wat tussen 25 en 30 jaar oud is, is ongeveer 1,5 meter lank, skraal gebou en donker van gelaat. “Hy het ‘n swart hoed, ‘n T-hemp en jeans gedra en was in besit van ‘n vuurwapen.

“Albei verdagtes het Afrikaans gepraat.”

Enigiemand met inligting

Enige persoon met inligting wat kan help om die verdagtes op te spoor, word versoek om vir sers. Junita Lekay, die ondersoekbeampte, by 082 3020 473 of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels in Afrikaans hier.