Wat jy van die volgende Covid-19-golf en inperking kan verwag

Deel hierdie storie / Share this story

Alhoewel daar ’n toename in Covid-19-infeksies is, sal daar nie nou al strenger inperkings ingestel word nie. Die volgende vlaag infeksies van die koronavirus sal Suid-Afrika glo middel Desember of vroeg Januarie tref.

Joe Phaahla, minister van gesondheid, sê die land sien wel ’n toename in Covid-19-infeksies, maar gesondheidsamptenare sal nie op die oomblik na ’n strenger vlak van inperking beweeg nie.

Phaahla het in ’n onderhoud aan eNCA gesê die vierde Covid-19-golf sal Suid-Afrika na verwagting op die vroegste middel Desember, dalk vroeg Januarie, tref.

Hy het ook gesê daar word geglo die vierde golf sal nie so erg wees soos die drie vorige golwe nie.

“Die bevolking het ’n natuurlike immuniteit ontwikkel. Die inentingsyfer onder volwassenes sal ook beskerming bied.”

Phaahla het egter gesê die regering is steeds versigtig oor hierdie voorspellings weens die potensiële impak van ’n nuwe Covid-19-variant.

Hy het gesê die regering verseker dat daar voldoende bedkapasiteit en suurstofvoorraad sal wees, maar dit is onmoontlik om te sê waar in die land die golf infeksies eerste kan tref en met watter omvang. Dit bemoeilik logistieke voorbereidings.

Phaahla het oor die kwessie van nuwe beperkings gepraat en gesê die departement van gesondheid wil dit sover moontlik vermy om ernstige inperkings in te stel.

“Ons wil soveel as wat ons kan doen in terme van sosiale beperkings om superverspreiding te vermy, maar sonder om te veel van die vryhede van mense sosiaal en ekonomies weg te neem. Ons sal dus dienooreenkomstig adviseer,” het hy gesê.

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels oor Covid-19 hier.