JOHANNESBURG. – ’n Pa van drie jong kinders is doodgery terwyl hy geryloop het om by die werk te kom.
Die ongeluk, wat Godfrey Warren (35) se lewe geëis het, het op Maandag 1 November 2021 omstreeks 19:40 op die N12 plaasgevind.
Nagskof
Sharon Warren, Godfrey se vrou, sê hy het elke dag op hierdie spesifieke pad geryloop om by die werk te kom, asook na werk weer terug huis toe. “Hy het op hierdie dag nagskof gewerk toe die ongeluk plaasgevind het.
“Niemand het ons laat weet oor die ongeluk nie. Ons het begin rondbel en begin soek na my man. My swaer het my omstreeks 20:00 die Dinsdagaand gebel en my die nuus meegedeel. My man is op die toneel dood verklaar.”
Gesinsman
Warren sê haar hart is verpletter en dat sy haar man ongelooflik baie mis. “Hy was ’n gesinsman wat alles vir ons sou doen. Hy was hardwerkend en was die broodwinner.
“Ons het ’n dogtertjie van drie jaar oud en hy was ook die pa van my twee seuns. Hy het hulle soos sy eie behandel en mens sou nooit kon sê dat hy hulle ‘stiefpa’ was nie. Hy het regtig vir sy gesin geleef.”
Antwoorde
Sy sê tot dusver is nog niemand vir sy dood in hegtenis geneem nie. “Ek wil net antwoorde hê. Iemand moes gesien het wat gebeur het. Indien daar enigiemand is met inligting of wat die ongeluk sien gebeur het, kontak my asseblief by 065 956 0843.



