NOORDWES. – ’n Man, wat as ’n biokinetikus in Klerksdorp gepraktiseer het, is skuldig bevind op aanklagte van bedog. Hy het geen kwalifikasies gehad nie.
Johannes Christiaan van Belkum (53) is op 17 November 2021 in die Klerksdorp-streekhof skuldig bevind aan bedrog en die oortreding van die Wet op Gesondheidsberoepe.
Geen kwalifikasies nie
Kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, sê Van Belkum het sonder kwalifikasies as biokinetikus in Klerksdorp gepraktiseer en was nie by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer nie.
“Hy is op 24 Maart 2021 deur die Valke se Ernstige Kommersiele Misdaad-ondersoekspan gearresteer en aangekla op sewe aanklagte van bedrog en die oortreding van die Wet op Gesondheidsberoepe.”
Skuldigbevinding
Mogale sê ook Van Belkum het verskeie hofverskynings gemaak tot en met sy skuldigbevinding en vonnisoplegging.
“Hy is tot 12 maande op elke aanklag gevonnis. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.”



