SENEKAL. – André Pienaar staar tans sewe aanklagte teen hom en vyf jaar tronkstraf in die gesig, ná hy op 6 Oktober 2020, by die optog teen plaasmoorde, gearresteer is.
Genevieve de Jager, ’n vriendin van die vermoorde Brendin Horner en André Pienaar, sê daar het duisende mense op dié dag bymekaargekom, maar tans staan Pienaar alleen.

Plaasmoorde
Brendin Horner, ’n jong plaasvoorman van Paul Roux, is die aand van 1 Oktober 2020 wreed vermoor. Horner se pa het die volgende oggend op sy liggaam afgekom.
“Die optog was teen plaasmoorde, nadat twee verdagtes, wat vir die moord op Horner beskuldig word, gearresteer is. Die twee verdagtes het op 6 Oktober 2020 hulle eerste verskyning in die hof gemaak.”
Pienaar word onder meer vir brandstigting, openbare geweld, poging tot moord, beskadiging van eiendom en aanranding met die doel om ernstig te beseer, aangekla.
Skuldig pleit
“Daar word verwag van hom om skuldig te pleit op die aanklagte teen hom. Hy is ‘n eggenoot, pa van twee jong dogters en die broodwinner van sy gesin”, sê De Jager. “Louis Pienaar, ’n prokureur van Bloemfontein, sal ons help om die aanklagte teen Pienaar te beveg, maar daarvoor kort ons nog baie fondse.”

Volgende hofdatum
“Pienaar se eerste borgtogaansoek is afgekeur, waarna hulle dit in die hooggeregshof geappelleer het. Pienaar is daarna op borgtog vrygelaat.”
Sy sê ook dat die saak teen Pienaar baie sloer en kort-kort uitgestel word.
Die saak is tot 10 Desember 2021 uitgestel.
De Jager vra dat indien enigeen wil help of ’n bydrae wil maak, jy haar by 073 361 1387 sal kontak.



